In ‘n tyd waarop staatsinstellings sukkel met goeie oudits, is die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke beloon omdat dié instelling die afgelope drie jaar ‘n skoon oudit ontvang het.
Ernst Relling van ARC Sakhile wat die oudit namens die ouditeur-generaal uitgevoer het, het tydens ‘n gelukwensingsgeleentheid op Donderdag 31 Julie by die museum gesê die skoon oudit vir drie jaar agtereenvolgens is ‘n sterk aanduiding van goeie bestuur.

“Die Oorlogsmuseum het ‘n skoon oudit ontvang met geen bevindinge vir die derde jaar – ‘n prestasie wat in die Suid-Afrikaanse openbare sektor toenemend skaars word. ‘n Skoon oudit beteken dat die finansiële state regverdig en in alle wesenlike opsigte akkuraat weergee hoe die instelling sy fondse bestuur, sonder enige bevindings van nie-nakoming aan wetgewing of beduidende interne beheer swakhede,” sê hy.
Hy sê verder deursigtigheid en verantwoordbaarheid, veral in ‘n tyd waar sulke uitkomste by openbare entiteite uitsonderlik is, is dit ‘n prestasie.
“Dit getuig van van die museum se verbintenis tot korrekte finansiële praktyke, ondanks uitdagings wat instansies in die kultuur- en erfenissektor het.”
Dit is ‘n groot pluimpie vir een van Bloemfonteinse se spog-museums wat voortdurend nuwe projekte onderneem. Die ouditorium is onlangs opgeknap en die museum bou nou ‘n besonderse blokhuis wat in September geopen gaan word.






You must be logged in to post a comment.