Die personeel van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein met die PMR-eerbewys. Foto: Verskaf

Die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke is vanjaar benoem as uitstaande museum in die erfenis-afdeling van die Nasionale kuns-en-kultuur-eerbewyse.

Hoewel die eerbewys op ‘n spoggeleentheid op 22 Augustus aan Kimberley se William Humphreys-kunsgalery gegaan het, was dit wel vir die personeel van die Oorlogsmuseum ‘n groot eer dat die museum benoem is. Die ander benoemde in dieselfde afdeling was die KwaZulu-Natal-museum.

Volgens Tokkie Pretorius, direkteur van die Oorlogsmuseum, is hulle geëerd om saam met die department van sport, kuns en kultuur se entiteite benoem te kon word.

“Ons is bly ons harde werk is raakgesien. Ons bestuur en span werk baie hard om die museum mooi en proffesioneel te hou en seker te maak dat ons ‘n goeie diens aan die publiek lewer.”

Die Oorlogsmuseum, wat al die afgelope 15 jaar skoon oudits ontvang, is ook weer pas met ‘n PMR Africa Diamant-eerbewys erken.

” ‘n Instansie kan nie vir die PMR-eerbewys aansoek doen nie,” verduidelik Pretorius.

PMR Africa doen jaarliks ‘n opname om sake-uitnemendheid te meet en te erken. Die opname behels onderhoude met honderde professionele praktisyns, besluitnemers en ook met bestuurders wat maatskappye en instellings in hul spesifieke sektore beoordeel.

“Dié eerbewys verteenwoordig mededingendheid, doeltreffendheid, uitnemendheid, leierskap, veerkragtigheid en dui op kliëntediens en kliënte-tevredenheid.

“Die personeel se bydrae tot die vestiging van ‘n wen-onderneming word deur hierdie eerbewys erken,” sê Pretorius.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article