Oorskietkos bied die perfekte geleentheid om ’n nuwe gereg te skep. Hier is ’n lekker idee as daar ’n bietjie oorskiet groente, soetpatats of aartappel in die yskas is.
Al wat jy kan bysit is ’n eier en blokkies spek of ham, en in ’n japtrap kan jy ’n heerlike gereg voorsit.
Jy benodig:
3 gekookte medium aartappels;
325 g oorskiet groente of gekookte kool;
2 geklitste eiers;
30 ml kerriepoeier;
Olyfolie;
4 vars eiers;
Gebraaide spek of blokkies ham (opsioneel).
Om te bedien:
Komkommer-raita of ongegeurde jogurt met opgekapte komkommer;
Rissie-olie (opsioneel);
Atjar;
Vars koljander.
Maak só:
Braai die blokkies spek.
Skil die gekookte aartappel en sny in blokkies. Sny die groente op en voeg by. Plaas dit in ’n houer en roer die twee geklitse eiers en kerrie by. Voeg die spek of ham by en meng deur. Verdeel dit in vier en vorm plat, ronde koekie-vorms.
Verhit ’n bietjie olyfolie en bak die koekies vir ongeveer 8 tot 10 min – draai eenkeer. Braai tot goudbruin en laat dit afdrup.
Braai die eiers soos elkeen daarvan hou.
Bedien die eiers bo-op die aartappel-koekies met ’n skeppie raita, rissie-olie, ’n skeppie atjar en versier met vars koljander.