Tydens ’n onlangse struktuurondersoek by die Eerste Raadsaalmuseum is ’n interessante ontdekking gedoen.
Vanuit ’n historiese oogpunt is Die Eerste Raadsaal die belangrikste gebou in die Vrystaat.
Hierdie nederige geboutjie in St. Georgestraat 95, wat vandag as die Eerste Raadsaalmuseum bekend staan, was gedurende Bloemfontein se pioniersjare die bakermat van die kerk, skool administrasie en politieke gebeure noord van die Oranjerivier (vandag Garieprivier). Met sy stewige lang wit mure, klein venstertjies, misvloer en grasdak is dit die oudste oorblywende gebou in Bloemfontein en die enigste voorbeeld van die pioniersboustyl wat in die Vrystaatse hoofstad behoue gebly het.
Dié gebou is in 1849 deur majoor H.D. Warden, Britse resident en stigter van Bloemfontein, as skooltjie opgerig, maar is ook ’n ruk lank as NG kerk gebruik. Die gebou het ook as vergaderplek en raadsaal diens gedoen.
Die onderhandelinge waardeur die republiek van die Oranje-Vrystaat volgens die Bloemfontein-konvensie onafhanklik van Brittanje geword het, het hier plaasgevind, terwyl die Vrystaatse Volksraad van 1854-1856 hier vergader het. Die Raadsaal is aanvanklik ook vir kerkdienste deur die Anglikaanse Kerk gebruik, terwyl die Grammar School (die latere St. Andrew-skool) ook hier begin het.
Die Nasionale Museum is sedert sy stigting in 1877 tot in 1915 in die Eerste Raadsaal gevestig.
In 1885 is ’n westelike en in 1891 ’n oostelike vleuel vir museumdoeleindes aangebou. In 1915 het die Nasionale Museum die Raadsaal ontruim en na sy huidige terrein verskuif.
Die Eerste Raadsaal met sy aangeboude vleuels is toe onder meer as kerk, kantore, ontspanningsaal en selfs as bergplek vir sprinkaangif gebruik.
In 1936 is die Eerste Raadsaal as Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar. Weens ’n verandering in Erfeniswetgewing is die Raadsaal vandag ’n provinsiale erfenisterrein. Die oorspronklike grasdak van die Raadsaal is met ’n sinkdak vervang en in 1971 is die westelike vleuel gesloop, waarskynlik omdat dit bouvallig geword het.
Volgens ’n foto in die Vrystaatse Provinsiale Argiefbewaarplek is die fasade van die oostelike vleuel gebou van bakstene, afgewissel met sementlae, asook vensteromrandings van sement en ’n dekoratiewe sement-pediment met klipbolle bokant die hoofingang van die museum. Die fasade van die oostelike vleuel het dus oorspronklik horisontaal gestreepte mure gehad, maar is later gepleister en wit geverf.
Die staat het in 1975 die gebou aan die Nasionale Museum beskikbaar gestel vir restourasie en die terugplasing daarvan in historiese perspektief.
Tydens die restourasieproses is die plankvloer en –plafon, wat vir museumdoeleindes in die Raadsaal aangebring is, verwyder en is die Raadsaal weer van ’n misvloer en grasdak voorsien soos dit oorspronklik was.
Die gerestoureerde Eerste Raadsaalmuseum is op 20 Julie 1977 vir die publiek oopgestel, presies 100 jaar na die stigting van die Nasionale Museum.
Die Eerste Raadsaal is vandag steeds ’n satellietmuseum van die Nasionale Museum met uitstallings wat die vroeë geskiedenis van Bloemfontein en die geskiedenis van die Raadsaal-gebou uitbeeld.
Die Waenhuismuseum, op dieselfde terrein, huisves ’n versameling rytuie uit die 19de en vroeë 20ste eeu.
Ou geboue verg gedurige instandhoudingswerk en sedert 1977 is die Eerste Raadsaal en sy aangeboude museumvleuel (bekend as die Wardensaal) periodiek deur die Nasionale Museum en Departement Openbare Werke herstel en opgeknap. Die misvloer is in 2008 en weer in 2015 deur ’n aantal kundige swart vroue op die tradisionele wyse met ’n mengsel van gesifte miershoopgrond, water en beesmis gesmeer. Dis ’n tegniek wat vandag nie meer algemeen bekend is nie. So ’n misvloer word later baie hard. Om die leeftyd van die misvloer te verleng, is koue lym by die water en beesmis-mengsel gevoeg. Dit is belangrik om die misvloer van die Raadsaal in stand te hou, want die kenmerkende reuk van die misvloer is ’n belangrike deel van die besoeker se belewing van die verlede.
Daar is nou weer ’n projek vir herstelwerk en verbetering van die terrein en sy geboue by departement openbare werke geregistreer, wat hopelik vanjaar nog sal begin.
’n Lekkende geut het veroorsaak dat stroke van die wit plakpapier wat tydens die 1977-restourasie aan die noordekant (straatkant) van die Wardensaal aangebring is, begin losgaan het. Tydens dié struktuurondersoek deur die museum is ou, dekoratiewe muurpapier met ’n blompatroon onder die wit muurpapier ontdek. Hierdie ou muurpapier is waarskynlik die oorspronklike wat tydens die oprigting van die oostelike museumvleuel in 1891 op houtborde teen die mure aangebring is, want in die 1890’s was muurpapier hoog in die mode. Wanneer die beoogde herstelwerk aan die Raadsaalmuseum gedoen word, sal ’n houtrraam bo-oor ’n stuk van die oorspronklike muurpapier geplaas en belig word, sodat besoekers die oorspronklike muurpapier kan sien.
- Dr. Marianna Botes is die hoofmuseumwetenskaplike by die Nasionale Museum se afdeling vir geskiedenis.