Op 21 is hy nr. 1

Twee weke nadat Caden Kakora mondig geword het, het hy die Suid-Afrikaanse pluimbal-enkelspelkampioen geword.


Twee weke nadat Caden Kakora mondig geword het, het hy die Suid-Afrikaanse pluimbal-enkelspelkampioen geword.

Die kampioenskapsbyeenkoms is van 15 tot 19 Oktober in Kaapstad aangebied, en Kakora het weer bewys dat hy ’n puik speler is in die eindstryd, veral wat belangrike toernooie betref.

Hy is al van ’n jong ouderdom af deel van Suid-Afrikaanse spanne, op junior en senior vlak, en het stadig maar seker ondervinding opgedoen.

Dit het begin in 2021 toe hy die Afrika junior-enkelspeltitel teen sterk teenstanders gewen het. Wat dit indrukwekkend gemaak het, is dat hy in die eindstryd sy beste spel van die toernooi gelewer het.

Dit het ’n patroon geword toe hy nog op skool was en die Suid-Afrikaanse senior dubbelspel- en gemengde titel gewen het, en nou het hy die hoogste sport in pluimbal in Suid-Afrika ook gemaklik in die eindstryd bereik.

In dié kampioenskapswedstryd het hy teen sy hoogs aangeskrewe Vrystaat-spanmaat Robert Summers te staan gekom, en hoewel die telling relatief naby was en dit ’n goeie wedstryd was, was Kakora die hele wedstryd in beheer. Hy het met 21-18, 21-17 gewen.

Kakora het Nevin George van die Westelike Provinsie (WP) in die halfeindstryd gemaklik met 21-9, 21-9 getroef, en selfs ’n Duitser wat aan die toernooi deelgeneem het, Robin Fiedler, 21-8, 21-11 in die kwarteindstryd verslaan. Die titel op so ’n jong ouderdom kan moontlik die begin wees vir die volgende stap in Kakora se loopbaan, met die Olimpiese Spele in 2028 wat sy uiteindelike doel is. Vir nou is die Afrika-titel in Februarie 2025 in sy visier.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.