Die Kaapstadse sopraan Zanne Stapelberg en pianis Albie van Schalkwyk tree al langer as 20 jaar saam op in kunsliedkonserte.
Deesdae is albei vryskutmusici, hul samekoms is nou meer gereeld en hul produksies meer gevarieerd, soos Opera Tango wat hulle in Julie op die Vrystaatse Kunstefees aanbied.
Die produksie vertel nie ‘n storie nie, maar bestryk ‘n spektrum van emosies wat oor drie dele uitspeel.
Die eerste groep liedere bevat bekende opera-arias en begin met die ontroerende “Lascia ch’io pianga” uit Rinaldo van Handel, gevolg deur Delila se “Mon coeur s’ouvre à ta voix” uit Samson en Delila van Saint-Saëns en die immergroen “Lied aan die maan” uit Rusalka van Dvořák.
Die tweede groep liedere is ‘n vertoon van Spaanse ritmes en warmbloedige passie.
Twee liedere van Piazzolla is ingesluit, “Die verlore voëls” en die onweerstaanbare aria “Yo soy Maria” (My naam is Maria) uit die tango-opera Maria de Buenos Aires.
Die groep sluit af met die prettige zapateado of Spaanse tarantella uit Gimenez se zarzuela La Tempranica.
In die derde deel kom nommers uit musiekspele aan die beurt.
Dit begin met “I could have danced all night” uit My Fair Lady, daarna volg onder meer die roerende “Unusual Way” uit Nine van Maury Yeston. Die program eindig op ‘n heerlike hoogtepunt met die lied “The girl in 14 E” van Jeanine Tesori.
Dit gaan oor ‘n skaam meisie wat in ‘n woonstelblok intrek en tussen ‘n operasangeres onder haar en ‘n wilde jazz-sangeres in die woonstel bo haar beland.
Ná die pretstuk sluit die program af met die hooflied uit die musiekspel Kiss of the Spiderwoman – the Musical van John Kander.
Die program sluit ook klaviersolo’s in wat Albie in die verskillende gedeeltes bydra: Schumann se “Arabeske”, ‘n Spaanse dans van Granados en Earl Wild se “Virtuose Etude” gegrond op Gershwin’ se “Embraceable You”.
Zanne Stapelberg en Albie van Schalkwyk gaan in Opera Tango gestalte gee aan die passievolle arias, avontuurlustige zarzuelas, ritmiese Spaanse klanke en verleidelike tango.
Hulle tree twee keer op: 15 Julie om 13:30 en 16 Julie om 17:00 in die Odeion-ouditorium op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein.
Besprekings is by Webtickets.




