Ses maande van uiters baie geduld vir ’n woelige agtarige het hierdie week vir eers tot ’n einde gekom met ’n operasie tydens Smile-week in die Universitas- Akademiese Hospitaal.
As deel van Smile-week van Maandag 11 Maart tot Donderdag, het 22 kinders lewensveranderende operasies ondergaan.
Een van hulle is Arrianna Botha (8) van Sasolburg wat in September 2022 deur die gesin se hond in hul huis aangeval is. Arrianna se kopvel is afgeskeur en sy moes veloorplantings op haar kop kry.
Tydens Smile-week in September verlede jaar het dr. Nikita Blake en haar span chirurge ’n ballonnetjie onder Arrianna se kopvel ingeplant om haargroeiende vel te kweek.
Arrianna se ma, Ailleen, sê hulle moes ná die operasie elke twee weke van Sasolburg na Bloemfontein reis sodat dokters water in die ballonnetjie kon spuit om die kopvel te rek.
“Ons het vir Arrianna tuisonderrig gegee, want sy speel rof met ander kinders en ons kon nie toelaat dat maande se werk vernietig word nie. Sy het net by die skool gaan eksamen skryf. Ons kan nie wag dat die ballonnetjie verwyder word sodat sy weer soos ’n agtarige kan speel nie.”
Dr. Blake sê hulle het met hierdie week se operasie die vel wat intussen gerek het, oor Arrianna se kop getrek en vasgemaak sodat sy weer ’n haarlyn bo-oor haar kop kan hê.
Ailleen het Dinsdag gesê sy is angsbevange oor haar dogter se operasie, maar weet alles sal goed verloop.
Arrianna het al meer as 34 operasies ondergaan en dokters soos dié wat deel van Smile-week is, is toegewyd aan rekonstruksie wat vir kinders soos sy lewensveranderend is.
Nog een van die babas wat geopereer is, is klein Zoe Billings (5 maande) van Villiers.
Haar ma, Sandra, sê toe Zoe in die hospitaal in Frankfort gebore is, het die personeel dadelik vir Zoe wat met ’n gesplete lip en skewe neusie gebore is, ’n afspraak gemaak by Universitas.
“Ons kon nie die eerste afspraak nakom nie,” sê Sandra.
“Ek het na Smile se webwerf gaan kyk en baie inligting daar gekry.”
Sy sê ondanks Zoe se lippies, het sy van die begin af goed geëet.
“Sy is ’n regte ou pap-potjie. Sy sny ook nou tande, so die handjies wil net heeltyd mond toe gaan.”
Die babas se hande word met verbande vasgebind sodat hulle nie hul mondjies wat Dinsdag geopereer is, seermaak nie.
“Sy is gelukkig ’n maklike baba en vanaand is ons weer by die huis,” het Sandra Dinsdag gesê.
Vandeesweek se Smile-week in Bloemfontein is moontlik gemaak deur verlede jaar se Mandeladag-projek van Jacaranda FM se Good Morning Angels. Danksy die geld wat met dié projek ingesamel is, is R2,1 miljoen van die publiek aan Smile-week en kinders wat soortgelyke chirurgie moet ontvang, geskenk.
Tarri Parfitt, nuwe uitvoerende hoof van die Smile-stigting, sê die operasies met die hulp van Universitas-hospitaal en borge, word sedert 2008 hier gedoen.
“Ons wil vir hierdie kinders ’n normale lewe gee en hulle help selfvertroue ontwikkel.”