Opheffing van Mangaung-raadsvergaderings afgeweer

Die raad van die Mangaung-metro se hoofsweep het absoluut geen reg om te besluit om die hou van raadsvergaderings op te skort nie.


Die raad van die Mangaung-metro se hoofsweep het absoluut geen reg om te besluit om die hou van raadsvergaderings op te skort nie.

So sê die speaker van die metro, Stefanie Lockman-Naidoo, nadat Vumile Nikelo Vrydag (05/08) ’n brief aan haar, die burgemeester en die adjunkburgemeester gestuur het waarin die ANC se tussentydse streekskomitee in Mangaung die hou van raadsvergaderings tydelik opgeskort het.

In Nikelo se brief sê hy hy gee die ANC-streekkomitee se besluit deur na aanleiding van bevindings van ’n dissiplinêre subkomitee se sitting in April waarop sommige lede van die ANC geskors is.

Marietjie Gericke berig op Netwerk24 dat die ANC-streekskomitee Lockman-Naidoo en nog sewe ANC-raadslede geskors het.

Lockman-Naidoo het Maandag (08/08) aan Nikelo ’n brief teruggestuur waarin sy sê dat slegs sy as speaker die statutêre verantwoordelikheid het om te beslis oor sake van die raad. Sy sê daarin Nikelo het geen sê oor die sameroeping van die raad of komitees nie.

“Die brief om raadsvergaderings van die Mangaung-metro op te hef is onsmaaklik, onwettig en word verwerp met die minagting wat dit verdien.”
Sy sê die volgende raadsvergadering is vir 18 Augustus geskeduleer.

Dit kom nadat die DA in die Mangaung-metro ten sterkste beswaar gemaak het oor die brief van Nikelo wat volgens hulle die perke van staat en party oorskry.

Maryke Davies, die DA se hoofsweep, sê geen party, veral nie die regerende party op wie se werking die raad grootliks staatmaak, die reg het om raadsvergaderings op te skort nie.

Die DA se koukusleier, Johan Pretorius sê dié party kan nie net staan en toekyk hoe Mangaung verslind word deur ’n bodemlose put van korrupsie nie.

“Ons dring daarop aan dat die hoofsweep en waarnemende stadsbestuurder die brief van 5 Augustus terugtrek en ons distansieer ons van die instruksies wat deur die waarnemende streeksraad beveel is.”

Lockman-Naidoo het aan Bloemnuus bevestig die volgende raadsvergadering is vir 18 Augustus geskeduleer en sal voortgaan.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.