Ná ‘n vrugtelose poging van die DA om inspeksie van die Mangaung-metro se inligting- en kommunikasietegnologie- en verkrygingsafdelings uit te voer, gaan die saak nou met die provinsiale tesourie opgeneem word.
DA-raadslid Dirk Kotzé sê hy en mede-raadslede het verlede week ‘n formele aansoek gerig om oorsig te doen van dié twee afdelings.
Hy sê die DA het ‘n konstitusionele verpligting om oorsig uit te voer soos uitgewys deur die ouditeur-generaal.
Kotzé verwys na die kuberaanval van Oktober 2023 wat swakhede in die metro se inligting- en kommunikasiestelsels uitgewys het.
“Die uitvoerende tegnologie-beampte Motshidisi Mphatlhane is reeds meer as ‘n jaar in die pos, maar daar is nog min vordering om die stelsels te verbeter.”
Die DA wou oorsig doen oor die data-rugsteun- en krisisherstel-stelsel; die netwerk-infrastruktuur en kubersekuriteit-protokolle; vordering met digitalisering en interne munisipale prosesse; e-posse en die kommunikasie-bediener; en die nakoming van verkrygingstandaarde.
“Hierdie sake moet dringend aandag kry omdat die metro al die afgelope vyf jaar onder nasionale ingryping is. In 2023-’24 is 111% van die begroting spandeer terwyl slegs 45% van werkverrigtingprestasie nagekom is. Dit dui op oneffektiewe bestuur, onduidelike finansiële praktyke en onvoldoende gevolgbestuur.”
Die DA gaan die stadsbestuurder versoek om die oorsigmandaat te respekteer en deursigtigheid te verseker.