Voortrekkers van die Werk-en-wen-kommando het op 3 Mei graaf en hark opgeneem om die geskiedkundige Bron van Herinnering op te ruim.
Marietjie van der Walt, leier van dié kommando by die Hoërskool Sentraal, sê dit is die eerste keer sedert die uitbreek van die Covid-19-pandemie dat die Voortrekkers daarby betrokke raak om die monument en omgewing netjies te hou.
Voor die pandemie het die stad se onderskeie Voortrekkerkommando’s beurte gemaak om dit te doen.
Die monument, opgerig in die middel van die terrein waar die Bloemfontiense konsentrasiekamp tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) was, is agter die Bybelhuis naby die Dam van Trane geleë.
Willie Engelbrecht, gebiedsleier van die Vrystaatse Voortrekkers en voorsitter van die Vriende van die Bron, sê die groep vrywilligers het Anchor of Hope verlede jaar Augustus betaal om die toegangsroete en die gedenkterrein netjies te maak.
Dit het intussen weer toegegroei en hulle moes die pad oop sny sodat die Voortrekkers toegang tot die monument kon kry en met opruiming kon help.
Engelbrecht sê die konsentrasiekamp by Bloemfontein was een van die grootste kampe in die oorlog en is in Augustus 1900 geopen.
“Die doel van die Britse magte met die kampe was om die boere en arbeiders van die plase af weg te kry sodat hulle nie die Boerekrygers van lewensmiddele kon voorsien nie. Die Britse magte het geglo dit sou tot ’n vinnige einde aan die oorlog lei,” vertel Engelbrecht.
“Die Boerekrygers het egter aanhou veg en omstandighede in die kampe het versleg omdat daar nie behoorlike infrastruktuur en middele beskikbaar was om die kampe behoorlik te bedryf nie.”
Vir die vroue in die Bloemfonteinse kamp het die lewe bestaan uit die versorging van hul kinders, en hulle het hul klere in die Dam van Trane gewas. Van die sowat 6 500 vroue, kinders en enkele mans wat in die kamp was, is meer as 1 000 meestal weens siekte dood.
Hulle is in die Memorium-begraafplaas en die Presidentsakker sowat 10 km weg begrawe.
Die Bron van Herinnering is in 1961 gebou om hulde te bring aan ’n volk wat ná die oorlog opgestaan het en van voor af moes begin met hul lewe op die plaas.
Die monument is gebou in die vorm van die kasteel in Kaapstad, met vyf hoeke wat geestelike kragbronne versinnebeeld: geloof, moed, vaderlandsliefde, volharding en vernuf.
By die monument is ’n beeld van ’n Afrikanermoeder wat opstaan en weg van die kamp met die grafte van haar geliefdes stap, vasberade om vir haar oorblywende kinders ’n toekoms te skep.
Engelbrecht sê die Vriende van die Bron is in 1994 gestig om die terrein te onderhou. Die groep het ook die ingang opgerig.
“Ons wil weer geld insamel sodat Anchor of Hope kan voortgaan om die terrein netjies te hou.”
Hy sê die Vriende van die Bron is dankbaar vir die Voortrekkers wat gehelp het met dié reuse-taak. Rig navrae aan hom by 082-728-1489.