’n Boer van Marquard is Dinsdag as Vrystaat-Landbou se Jongboer van die Jaar vir 2023 aangewys.
Vrystaat-Landbou het in ’n nuusverklaring aangekondig dat Lukas Lessing (26) tydens ’n spog geleentheid in Bloemfontein as die 27ste wenner van dié kompetisie aangekondig.
Lessing boer reeds ’n dekade en is ’n optimistiese jong boer wat daarin glo om die positiewe in elke situasie te soek. Hy meen die feit dat sy pa hom van jongs af by belangrike besluite oor die boerdery betrek het, lewer nou positiewe resultate.
Hy is die algemene bestuurder van die familieboerdery en bedryf hoofsaaklik die saaiboerdery (mielies, soja en sonneblom) en ’n kleiner veevertakking.
Die pa van twee huiwer ook nie om self in te spring waar nodig is nie en het daarom al telkemale self plaaspaaie geskraap sodat die boerderyaktiwiteite kan voortgaan.
Die emosionele en finansiële welstand van hul werkers is vir Lessing belangrik en daarom word die werkers aangemoedig om insette tot die boerdery te lewer wat hulle ook bevoordeel.
Prof. Pieter Fourie, sameroeper van die beoordelaarspaneel en hoof van die department van landbou by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), meen die drie kandidate was puik en het die beoordelaars behoorlik laat kop krap. Die ander jong boere teen wie Lessing meegeding het was Hennie Geldenhuys van Excelsior en Hansie Müller van Viljoenskroon. “Dit is werklik drie voortreflike jong boere. Benewens die feit dat hulle afsonderlike boerderye professioneel hanteer word, is hulle ook elkeen ’n aanwins vir hul onderskeie gemeenskappe.”