Ons bly in ’n universiteitstad met uitstekende skole. Ten spyte van ’n wanfunksionele munisipaliteit slaan groen lote van hoop in die vorm van inwonersforums se regruk-optrede oral op.

Ons hanteer sigbare uitdagings en probleme; maar in ons opvoedkundige instansies, is ek bevrees, dwaal ons merendeels nog blind tussen nuwe slaggate, bedreigings, maar ook geleent­hede.

Ten einde suksesvol te wees in ’n wêreld waar Kunsmatige Intelligensie (KI) die waarde van papegaai-leer tot bykans nul reduseer het, ploeter ons steeds voort na matriekeindeksamens wat handboekkennis meet. Die een terrein waarop ons moet rats wees, is dié van aanpassing en leer. Ons is egter net so min rats soos die Titanic, en ons stuur op ’n ysberg af.

Sagteware soos Midjourney het kommersiële produkfotografie, sowel as kuns- en grafiese ontwerp, oor die afgelope paar maande totaal ontwrig. Met Chat GPT-4 het skrywers, programmeerders en ander beoefenaars van inligtings­gebaseerde beroepe ook ’n wrede vyand en briljante bondgenoot raakgeloop.

KI is nou oral – en terwyl ons voortploeter word KI elke nanosekonde slimmer, ratser en meer toepasbaar op ons lewe.

Dit het meer as 20 jaar van vrot regering deur die ANC geverg om ons te laat wakker word en sien dat ons aan ons eie genade oorgelaat is. Ons het nie die luukse om te wag en kyk wat KI-ontwrigting sal doen nie.

Wanneer ek sien hoe ongeletterd mense nog is ten opsigte van vals nuus, en onbevestigde nonsens op WhatsApp-groepe deel, weet ek ons is in diep moeilikheid. Met KI kan elke Jan Rap en sy maat vals nuus skep – met ondersteunende video’s en foto’s van regte mense. Google gerus “deep fake videos”.

Bykans nêrens in die skool­sillabus word kritiese denke en onderskeidingsvermoë bo matriekuitslae verhef nie. Bykans nêrens word leerlinge geleer om teenstrydighede te ondersoek, sinvol te debatteer en dit wat onderwysers, lektore en boeke sê te bevraagteken nie.

Ons het meer filosofie-klasse, geskiedenis-debatte en letter­kunde-wat-ons-van-die-lewe-leer nodig as ooit tevore. Dit moet kombineer met harde wetenskap sodat ons kritiese denkers, kreatiewe ontwerpers, gebalanseerde gesinsmense en leer­gierige Da Vinci’s kry.

Ons gaan die papegaai moet nek omdraai. In stede van feite en formules leer, gaan ons dit moet geniet om inligting skeppend aan te wend.

Ek kan Chat GPT vra om ’n fotografiekursus binne sekondes te bou – met die beste inligting deur die beste fotograwe in die wêreld – maar Chat GPT kan nie saam met my in die veld stap, omstandighede trotseer en die wonderoomblik vasvang nie.

In kort, as ons die skuif van opfoeter na opvoeding wil maak, gaan ons unieke ervaringe moet skep; ons verantwoordelikheid gaan skuif van mense wat kennis oordra na mense wat passie vir ’n onderwerp oordra.

Onderwysers en lektore gaan die voorbeeld moet stel – ratse leerlinge wat studente uitdaag om te weet wanneer om saam met tegnologie te werk en wanneer om dit te betwyfel.

Enige opvoeder of ouer wat nie aanhou leer, krities dink, aanpas en intens leergierig is – en hierdie vaardighede aan leerlinge oordra deur hul voorbeeld nie – gaan ons toekoms plunder en verwaarloos, erger as wat die ANC ons land se infrastruktuur geplunder en verwaarloos het.

You need to be Logged In to leave a comment.