’n Veiligheidsmaatskappy en die Fichardtpark-woonbuurtvereniging (FWA) het verlede week kragte saamgespan om talle slaggate in die suide van Bloemfontein te vul.
Jeandré Swarts, senior operasionele bestuurder van Senforce, sê die slaggate wat hulle gevul het, is ’n manier waarop hulle aan die gemeenskap teruggee.
“Ons belê weer terug in die gemeenskappe waar ons werk. Paaie is deel van die infrastruktuur wat ons almal moet gebruik en daarom is dit belangrik dat ons dit regmaak om vinnig te reageer in noodsituasies,” het hy Vrydag in Langenhovenpark gesê.
Hy en Rian Malherbe van die FWA het die teer wat Senforce gekoop het, in die slaggate in Totiusstraat gegooi en dit vasgestamp. Terwyl hulle daarmee besig was, het motoriste vir hulle getoet en hulle bedank vir hierdie onbaatsugtige gebaar.
Swarts sê die FWA het baie hulpbronne en is altyd gewillig om te help. Daarom het hulle gehelp om nie net gate in Fichardtpark te vul nie, maar ook in Langenhovenpark.
Die twee het 53 slaggate in Fichardtpark gevul, en Vrydag alleen 38 slaggate in Totius-, Elias Motsoaledi- en Peet van der Merwe-strate gevul.
“Ons het ook ’n paar gate wat te diep is en met groter toerusting gevul moet word, aan Raubex deurgegee,” sê Swarts.
Swarts sê dit is juis omdat hulle baie navrae uit Langenhovenpark gekry het, dat hulle daar ook aandag aan slaggate geskenk het.
“Ons het ook navrae uit Fleurdal en Uitsig gekry en hoop om later daar ook te help om slegte slaggate te vul.”