Die eerste vrouekriekettoets in die Vrystaat sal in Desember in Bloemfontein aangebied word. Die vierdag-toets tussen Suid-Afrika en Engeland word van 15 tot 18 Desember op die Mangaung-ovaal beslis.

Voorheen het die vrouespelers nog net oefenwedstryde in dié stadion gespeel.

“Die toetswedstryd is ’n groot stap vir vrouekrieket in die Vrystaat,” sê Johan van Heerden, uitvoerende hoof van die Vrystaat se Knights-krieketspan.

“Krieket Suid-Afrika (KSA) het drie jaar gelede sy fokus begin verskuif om meer vroulike spelers betrokke te kry.”

Dié besluit het die stand van vrouekrieket in Suid-Afrika baie verbeter, meen Van Heerden.

“Ek is baie dankbaar dat hulle daardie besluit geneem het, en ek haal my hoed vir hulle af. Die Vrystaat pluk nou die vrugte van dié besluit.”

Hoewel geen Vrystaat-spelers in die Protea-span is nie, is daar potensiaal vir spelers om binnekort die span te haal.

“Die Vrystaat-spelers het baie verbeter die afgelope drie jaar,” sê Van Heerden.

Liza-May Pieters

You need to be Logged In to leave a comment.