’n Gedenkplaat is Saterdag (14/01) by die Orangia-rolbalklub onthul om dié klub se eeufeesvieringe vanjaar in te lui.
Die klub, die naasoudste rolbalklub in die stad – die Bloemfontein-rolbalklub (BBC) is die oudste – is op 12 Januarie 1923 amptelik gestig.
Twee van die klub se jarelange spelers, Michiel Kruger en Willie Schoeman, was ingesluit in ’n Protea-viertal wat Saterdag in twee vertoonwedstryde teen ’n klubspan en ’n Suid-Vrystaatspan meegeding het.
Die res van die vertoonspan is opgemaak deur Gerry Baker, direkteur van Wêreldrolbal, en Hertzog Meiring, lid van die Munisipale Rolbalklub (Munsies).
Dit was sover bekend die eerste keer dat Protea-spelers en ’n gesiggestremde Protea-speler in ’n span saam teen uitnodigingspanne met provinsiale kleure gespeel het.
Baker, wat self jare gelede ’n lid van Orangia was en later as lid van die Johannesburg Rolbalvereniging (JBA) talle nasionale en internasionale hoogtes bereik het, het die gedenkplaat voor die klubhuis onthul.
Daar het 36 spanne van oor die Suid-Vrystaat heen aan die dag se feesverrigtinge deelgeneem. Die klubspan wat in die vertoonwedstryd gespeel het, het bestaan uit Bulls Meiring, Andries Moroane, Hennie Stander (president van Orangia) en George Hamaty.
Die dag se vieringe is afgesluit met ’n spogdinee waarop gelukwense oorgedra is en ’n gedenkboek uitgedeel is wat terugkyk ook die klub se 100 jarige bestaan.
Orangia is aanvanklik ontwikkel waar die Loch Logan-waterfront vandag is. Die eerste baan, die Mackenziebaan, is deur die destydse burgemeester van Bloemfontein John Reid, op 25 Oktober 1924 geopen.
Met die ontwikkeling van die winkelsentrum is die bane na die huidige perseel in Att Horakstraat verskuif.
Met die opening van die nuwe bane op 19 Junie 2004 het spelers ’n ou rolbal padlangs gerol vanaf die ou na die nuwe klub.
Fransie Eddles (87) speel al vir baie jare rolbal en onthou hoe dié sport oor die jare verander het.
Sy het in 1968 begin rolbal speel en is vandag Orangia se oudste speler.
“Vroeër jare was daar baie spesifieke reëls oor kleredrag. Almal moes altyd in wit speel,” Sy onthou veral toe sy in die 1978 weer begin speel, hoe vroue in ’n rok, wat 4 cm onder die knie moes wees, ’n vollengte onderrok en sykouse moes rolbal speel. “Ons moes bruin skoene en klein oorbelle dra.”
Eddles se eerste man, wyle Hannes Lötter, was 17 keer ’n Vrystaatse Ope-kampioen en 10 keer die senior inter-distrikte kampioen.
Sy is in 2012 met Clive Eddles, ook ’n klublid van Orangia, getroud.
Die egpaar, Kruger en Schoeman asook tien ander lede behoort aan die klub nog voor die verskuiwing na Att Horakstraat.
Kruger, wat verlede jaar vir die 10 de keer agtereenvolgens goud gewen het op die Suid-Afrikaanse rolbalkampioenskap, vertrek in Maart na Australië waar hy as lid van die Suid-Afrikaanse span gaan deelneem aan die Internasionale Gesiggestremde Rolbalvereniging (IBBA) se kampioenskap.
Hy het ook in 2011 in Israel goud gewen in die enkelspel en silwer in die pare as lid van ’n uitnodigingspan; goud in die enkels en brons in gemengde pare as lid van ’n Proteaspan in 2012 in Johannesburg; goud in die gemengde pare as lid van ’n Protea-span in Engeland in 2013 waar die Suid-Afrikaanse span as wêreldkampioene aangewys is; goud in die enkels en pare as lid van die Proteaspan in 2015 in Nieu-Seeland waar die span weer goud wen; en goud in die dubbelspel in Kaapstad as lid van ’n Suid-Afrikaanse span in 2017.
Schoeman, wat jare lank Kruger se afrigter was, het sy Proteakleure gekry as afrigter.