Kort ná die groot sukses van die Hoër Meisieskool Oranje se eerste hokkiespan die afgelope tyd, het hul afrigter van die afgelope dekade, Morné Odendaal, nou ’n nuwe uitdaging in Amerika gepak.
Die span was in 2021 die Topskole-wenner en het boonop van 2013 tot 2019 die Vrystaatbeker gewen en die Bloemfontein-liga van 2013 tot 2019, asook in 2022.
Morné is deur en deur ’n Bloemfonteiner, wat matriek in 2005 aan Grey-kollege voltooi het. Hy het daarna Bemarking aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) gaan studeer.
Dit was in 2011 dat hy aan die Laer Meisieskool Oranje hokkie begin afrig het. Hy het in 2013 die hoërskool se eerste span begin afrig.
“Ek het nog altyd hokkie gespeel,” sê Morné oor hierdie passie van hom.
Hy was boonop in die o.21-Vrystaatspan en die Vrystaat-manshokkiespan.
Morné het op 19-jarige ouderdom hokkie begin afrig, en hy sê dit was vir hom ’n maklike sprong van speler na afrigter.
“My tyd by Oranje het vir my baie beteken, en ek sou dit vir niks anders verruil nie. Dit was die regte ding op die regte tyd,” meen Morné.
“Die sukses wat die meisies ná skool behaal het, is vir my belangriker as die sukses wat hulle op die veld gehad het.”
Hy sê hy kon sien hoe meisieshokkie die afgelope tien jaar oor die land heen ontwikkel het, vandat Oranje op ’n hoër vlak begin speel het.
“Dit is lekker om te sien hoeveel topgehalte spelers en spanne daar oor die land heen is.”
Morné is sedert verlede week ’n assistent-afrigter aan die Wake Forest-Universiteit in Winston-Salem, Noord-Carolina.
“My droom is om by hokkie in die VSA betrokke te raak om te sien of ek nie eendag na ’n Olimpiese Spele kan gaan nie.”
Morné sê hy wil graag sy betrokkenheid by die universiteit gebruik om Suid-Afrikaanse topspelers die geleentheid te gee om in ’n hoëprestasieprogram toegelaat te word om hul spel só te bevorder.
Morné se vrou, Delia, en hul twee kinders, Eli (3) en Noah (8), het saam met hom na Amerika gegaan.