Al vyf netbalspanne van die Hoër Meisieskool Oranje is Saterdag 17 Junie aangewys as die provinsiale kampioene.
Die eindstryd van die Vrystaat-netbalkampioenskap is op Odendaalsrus beslis.
Dit is die eerste keer dat al vyf A-spanne as provinsiale wenners gekroon is en so gekwalifiseer het vir die nasionale kampioenskappe.
In 2019 en 2022 het vier van die skool se spanne die Vrystaat-liga gewen.
Dit was vanjaar ook die derde agtereenvolgende keer waarop die eerste span met die louere weggestap het. Dié span het in 2019 vir die eerste keer in die 36ste bestaansjaar van die toernooi die trofee omhoog gehou.
Die o.19A-span het Eunice in die eindstryd met 43 – 10 verslaan. Die ander tellings was Hoopstad (43 – 8), Eunice (32 – 27), Witteberg (46 – 12) en Voortrekker (33 – 18).
Die o.17A-span het in die finale stryd teen die St Anne’s Tegniese Hoërskool (Virginia) 32 – 3 gewen; die o.16A teen die Hoërskool Voortrekker (Bethlehem) 18 – 8 gewen; die o.15A-span teen die Hoërskool Sentraal 16 – 10; en die o.14 A-span het Sentraal met 15 – 5 getroef.