Die Hoër Meisieskool Oranje se eerste tennisspan is die nie-amptelike Suid-Afrikaanse kampioen.
Dit kom nadat dié span in die 23ste Amanda Coetzer-tennistoernooi teen sewe van die land se top-tennisskole meegeding het.
Dié toernooi is van 11 tot 14 Mei op die skool se terrein aangebied.
In die eindstryd, wat Saterdag beslis is, het die meisies van Oranje die span van die Hoër Meisieskool Bloemhof van Stellenbosch met 5 – 1 geklop.
In die afgelope nege keer dat die toernooi aangebied is, het die gasheerskool vyf keer as wenner uit die stryd getree.
Die Oranjeniete was onoorwonne ná seges oor Paarl Girls’ High (4 – 3, halfeindstryd), Rhenish Girls’ High (7 – 0), Waterkloof (7 – 0) en Paarl-Gimnasium (6 – 1).
Paarl Girls’ High het die derde plek behaal, terwyl Rhenish vierde, Waterkloof vyfde, Menlopark sesde, Affies sewende en Paarl-Gimnasium agtste was.
Die lede van Oranje se eerste tennisspan is Ansoné Theron, Mia Schimper, Liné Greyling (kaptein), Anzél van Zyl, Nina Schimper, Lezaan Swanepoel en Donna le Roux.