Oranje se juffrou Spies oorlede

’n Geliefde oudhoof van die Hoër Meisieskool Oranje is Donderdag (25/08) in die ouderdom van 106 oorlede nadat haar gesondheid die laaste ruk verswak het.


’n Geliefde oudhoof van die Hoër Meisieskool Oranje is Donderdag (25/08) in die ouderdom van 106 oorlede nadat haar gesondheid die laaste ruk verswak het.

Margaretha Lategan, oftewel ML, was die enigste oorlewende oudhoof en was in ’n versorgingsoord in die Strand woonagtig. Dit was Donderdag presies ’n jaar nadat Oranje nóg ’n geliefde oudhoof, Mariehetta Matthee, op ’n gedenkdiens by die skool gegroet het.

Spies het die skool van 1962 tot 1982 gelei (die tweede langste in Oranje se geskiedenis) en was altesaam 42 jaar lank ’n onderwyser aan Oranje.

Sy het in 1941 as boekhou-onderwyser begin skoolhou, en het in haar tyd as skoolhoof steeds die vakke Duits, aardrykskunde, geskiedenis en drama onderrig.

Sy het trouens drama as vak by Oranje ingestel – wat dit die eerste, en vir lank die enigste, skool in die land gemaak het om dit as matriekvak aan te bied. Spies het ook die matriekdrag ingestel en dit is in haar tyd dat nuwelinge begin het om die eerste twee weke met hul vorige skooldrag skool toe te kom, voordat hulle as Oranjeniete ingelyf word en die pampoenrok begin dra.

Spies het nooit haar bande met die skool verbreek nie die skool ook nie met haar nie. Die skool se sanggroep het byvoorbeeld die afgelope naweek vir haar gaan sing toe die leerlinge vir die interskole teen Bloemhof in Stellenbosch was.

Anne-Marie Klink, skoolhoof, sê Spies se nalatenskap sal vir altyd onthou word.

“Dis met baie groot hartseer dat ons afskeid van ’n groot legende van Oranje neem. Sy het in soveel oud-Oranjes se lewe baie diep voetspore gelaat – voetspore wat ons altyd sal navolg. Die meetsnoere het vir haar in lieflike plekke geval. Dankie, me. Spies.”

) Spies was lief vir die uitdrukking “blom waar jy geplant is”.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.