BLOEMFONTEIN. Die yskoue swembadwater van die Hoër Meisieskool Oranje het Woensdag behoorlik gespat toe leerlinge hul swemklere aangetrek en 25 lengtes ten bate van meisies van Bloemfonteinse jeugsorgsentrums geswem het.
‘n Groep van 61 leerlinge het vanjaar deelgeneem aan die Yseendswem, ‘n geleentheid wat al sedert 2021 ten bate van tienermeisies van Engo se jeugsorgsentrums aangebied word.

In stede van ‘n nommer op die skouer, het die meisies wat deelgeneem het elk ‘n naam van ‘n meisie op haar skouer geskryf gehad – elke leerling kon vanjaar die naam van ‘n tienermeisie van een van Engo se jeugsorgsentrums trek en so vir ‘n spesifieke meisie swem. Die leerlinge het ook vir die meisies elk ‘n geskenkie gegee.
Elke swemmer moes borge kry om R2500 in te samel vir die projek. Een leerling het R50 000 ingesamel. ‘n Spesiale saalperiode word later in Augustus gehou waarin die geld wat ingesamel is, aan Engo oordandig gaan word.

Ruan Bruwer, bemarker van Oranje, sê op dié manier is die hele swemmery baie meer persoonlik. “Die leerlinge sê met hul deelname – ek kry koud vir ‘n goeie doel. Ek gee om vir jou.”
Hy sê die projek het tydens Covid begin danksy Lize-Marie Davidson (swemkaptein van 2021). Hy het haar tydens die Yseendswem Woensdag bedank vir haar aandeel in die lekker tradisie.

Die tieners van Engo se jeugsorgsentrums wat met die projek ondersteun word, het die geleentheid bygewoon en die meisies in die swembad aangemoedig met plakkate.
Selfs Engo se uitvoerende hoof, De Wet Claassens en Coenie Taljaard, Engo se direkteur van finansiële dienste, het hul swembroeke aangetrek en die water van 11 grade celsius aangedurf.

“Die water is yskoud, maar ons hart is warm oor die meisies van Oranje se omgee,” het Claassens gesê nadat hy uit die water geklim het.
Leerlinge van Oranje sê dit was baie spesiaal om aan die swem deel te neem. Een het gesê dit was die wonderlikste ervaring om te sien hoe groot verskil sy in a ander kind se lewe kan maak. “Die omgee en liefde wat ek tydens die swem beleef het, was verstommend.”
‘n Ander leerling het gesê: “Die water was baie koud aan die begin, maar later het ek besef dat dit nie nou gaan oor die koue en oor myself nie, maar oor die kinders van Engo. Ek het vasgehou aan die woorde van Spreuke 3:27 en ek het dit gesien as my kans om te leef soos Jesus leef en om iets vir iemand te beteken.”
Nog ‘n leerling som die dag so op: “Die Yseendswem was ‘n wonderlike ervaring wat die elemente van opoffering, pret en liefde goed kombineer. Nooit sou ek op ‘n ander plek met die meisie wat ek ontmoet het, kontak gemaak het nie. Ek het so baie by haar geleer en net besef hoe goed God is. Mense oordeel op aardse goed, maar God kyk na wat binne is.”
Ander leerlinge van Oranje kan nog tot 4 Augustus aan die projek deelneem deur tydens hul periode van lewensoriëntering in skooltyd te swem. Elke leerling betaal R50 om een lengte te swem en so word nog geld vir Engo ingesamel.
Enigeen kan ‘n bydrae tot Engo se werksaamhede lewer deur Engo se Projek van Hoop te ondersteun.
Besoek een van Engo se kantore, of besoek die webwerf, en doen ‘n skenking van R50 om die kans te staan om ‘n splinternuwe Renault Kwid Climber van R220 000 te wen. Die kans vir deelname eindig op 30 September, en die wenner word op 31 Oktober in ‘n gelukstrekking bepaal. Skryf hier in.




You must be logged in to post a comment.