Miché Johns van die Hoër Meisieskool Oranje was Sondag (12/02) die eerste Oranjeniet uit die Midmardam by Pietermaritzburg, in ’n blitsige tyd van 21:54.
Dit het aan haar ’n algehele 24ste plek onder die 889 vroue in die Midmarmyl-oopwaterswemuitdaging besorg. Dit was Miché (gr. 12) se sewende Midmarmyl en haar vinnigste tyd hier oor die 1,6 km.
Oranje het 139 swemmers ingeskryf, asook Mioné Marais, ’n onderwyser aan die skool.
Michaela van Rooyen (22:42) was algeheel 29ste, Emma Terblanche (22:59) 36ste, Francisca van Rooyen (23:23) 42ste en Francis Whelan (23:29) 43ste.
Lize-Marié Davidson (matriek in 2021) het ’n 17de plek in 21:25 behaal.
In die afdeling vir swemmers 13 jaar en jonger, waarin 282 deelnemers meegeding het, was Kate-Lynn de Jager (gr. 8) 9de in 24:48.
Oranje se swemspan was op 3 Februarie in die National Aquatics-fees in Johannesburg 4de uit die 10 deelnemende meisieskole, ná ’n 5de plek in 2022. Our Lady of Fatima was die kampioenspan, met die St. Mary-skool Waverley 2de en die St. Stithians-kollege 3de.
Die kompetisie bestaan hoofsaaklik uit aflosse van 4 x 50 m. Oranje het sy 4de plek veral te danke aan die o.19- en o.17-swemmers.
- Die o.19’s het in al vier hul aflosse ’n podiumplek verower en twee daarvan gewen.
- Die o.17’s was ewe op hul snykant met ’n 1ste plek en 3 keer ’n 2de plek.
- Die o.16’s het ’n 3de plek vermag, en die o.14’s 2 keer ’n 2de plek, asook ’n 3de plek.
- ’n Senior span van swemmers van verskillende ouderdomme was 2de in die wisselslag-aflos.
- In die individuele nommers was die o.14’s Kate-Lynn de Jager (200 m-vryslag) en Caileigh de Beer (200 m-wisselslag) onderskeidelik 2de en 3de.