Tien jaar nadat die koor van die Hoër Meisieskool Oranje ’n groot prys in Europa verower het, het dié koor die ATKV-Applous-koorkompetisie in Pretoria gewen.
ATKV-Applous word al 46 jaar aangebied en is die oudste skoolkoorkompetisie in die land.
Oranje het Woensdag 26 Julie in die ope afdeling ’n goue prys en ’n persentasiepunt van 88,71 ontvang.
Die Eunice High School, wat in 2022 die wenner van die ope afdeling was, was vanjaar reg vir ‘n nuwe uitdaging. Die koor het vanjaar saam met die topskole deelgeneem in die Prestige-afdeling en daar tweede gekom.
Dit is die eerste keer in die afgelope 20 jaar dat Oranje in ’n afdeling van dié kompetisie koning kraai.
Die koor het in 2013 goud vir meisieskore onder 21 jaar by die internasionale musiekfees in Bratislava, Slowakye, behaal en die grand prix-prys vir die begeleide folklore-afdeling.
Stefan Buys, kultuurhoof van die skool, sê nadat die Wêreldkoorspele in 2018 in Suid-Afrika gehou is, het die ATKV sy kompetisie vernuwe om ’n wyer spektrum in te sluit en daar is nuwe afdelings, waaronder die ope afdeling, vanaf 2020 bygevoeg.
Die koor het ’n gewyde program vir dié afdeling gedoen.
Een van die liedjies wat baie spesiaal was, was die komponis Awie van Wyk se weergawe van Habakuk 3, wat die voormalige skoolhoof Mariehetta Matthee se gunstelinglied was.
Die koor het ook ’n aanpassing gedoen van “O Heer, my God” wat die mense op hul voete gehad het, vertel Buys.
“Die atmosfeer in die saal was ongelooflik tydens die optrede. Ná elke lied kon ’n mens ’n speld hoor val.”
Die laerskool se koor het ook in die ouditorium gesit nadat hulle derde in die kompetisie geëindig het en hul ondersteuning was wonderlik, sê Buys.
Die koorlede was verheug dat hulle gewen het.
“Om die kompetisie te wen is net die kersie op die koek. As iemand ná die tyd sê hulle het hoendervel gehad, is dit amper ’n groter kompliment.”
Hoewel daar nie video’s van optredes in kompetisies geneem mag word nie, het ’n video van die koor wat sonder die orkes informeel by die Voortrekkermonument opgetree het, baie reaksie ontlok en word dit steeds wyd gedeel.
Die Laerskool Willem Postma, ook in Bloemfontein, het goud in die ATKV-Applous-koorkompetisie gekry en tweede geëindig in die afdeling Laerskool: Meriete. Die Laerskool Willem Postma het ook ’n prys gekry vir die beste uitvoering van die voorgeskrewe lied.