Oranjeniete seëvier op tennisbaan

Die Hoër Meisieskool Oranje het Saterdag (13/05) sy kroon op die Amanda Coetzer-tennistoernooi in Bloemfontein behou, hoewel dinge by tye maar erg spannend was.


Die Hoër Meisieskool Oranje het Saterdag (13/05) sy kroon op die Amanda Coetzer-tennistoernooi in Bloemfontein behou, hoewel dinge by tye maar erg spannend was.

Oranje het Rhenish Girls’ High van Stellenbosch in die eindstryd met 4 – 3 geklop. Dit het op Oranje se nr. 1-speler, Donna le Roux, neergekom om die knoop deur te hak.

Sy het in ’n spannende valbylpot met 10 – 7 geseëvier.

Die tuisspan se o.19A’s en die skool se o.15A-span was onoorwonne. Agt van die beste spanne in Suid-Afrika was in aksie by die o.19’s, en ses in die o.15-afdeling.

Oranje se o.19’s en o.15’s het albei nou drie van die laaste vier Amanda Coetzer-toernooie gewen. Die Oranjeniete is daarmee Suid-Afrika se nie-amptelike o.19- en o.15-kampioen, sowel as die amptelike huidige nasionale o.16 Rising Stars-kampioen.

Tennisspelers van Oranje wat plekke op die byeenkoms behaal het, was Donna le Roux (beste nr. 1-speler) Nina Schimper (beste nr. 2-speler), Mia Schimper (beste nr. 5-speler) en Iné Vorster (beste nr. 7speler).

Ameli Bezuidenhout is aangewys as beste o.15-nr. 2-speler en Savanah Oliver as beste o.15-nr. 3-speler.

Die Le Grange-sussies is die jongste van ’n rits Oranje-susters om die tennistoernooi se o.19-afdeling te verower.

Cara, gr. 8, volg in ousus Cayline se voetspore wat in 2018 deel van die wenspan was.

Voor hulle was daar:

  • Schimpers (Mia en Nina in 2022);
  • Greylings (Inge in 2018 en Liné in 2022);
  • Moolmans (Carita in 2012, Lize in 2012 en 2013 en Gina in 2018);
  • Stofbergs (Hanri en Lise in 2013 en 2015);
  • Fichardts (Nieke in 2012 en 2013 en Carmen in 2015); en
  • Botes (Louise-Maré en Huibré-Maré in 2012 en 2013).

You need to be Logged In to leave a comment.