Die senior span van die Hoër Meisieskool Oranje het as naaswenners uit die stryd getree in AfriForum se Dink-of-sink- onvoorbereide debatskompetisie vir hoërskoolleerlinge wat Saterdag beslis is.
Die kompetisie word jaarliks met uitdunne in vyf streke vir junior en senior spanne aangebied, waarna die streekswenners in die finale rondte teen mekaar meeding om die nasionale wenners te bepaal.
Die eindronde is by Akademia se Leriba-koshuis in Centurion beslis.
Die span van Afrikaans Hoër Seunskool Pretoria, bestaande uit Wian van Rooyen, Ignus Ferreira en Naudé Lourens het met die louere as senior wenners van 2023 weggestap.
Karli van Heerden, Dominique du Plessis en Lara Potgieter van Oranje was die naaswenners.
Saam met die twee skole was drie ander streekswenspanne van Hoërskool Framesby, Hoërskool D.F. Malan en Hoërskool Pietersburg by die finale ronde.
In die junior afdeling het spanne van Hoërskool Framesby, Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria, Hoërskool Durbanville, Merensky Landbou Akademie en Hoër Meisieskool Oranje teen mekaar meegeding.
Die Hoërskool Durbanville se Angelique en Genevive Myburgh en hul spanmaat Lenae le Roux het as die nasionale kampioene uit die stryd getree, met Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria se Anja Botha, Dané van Graan en Heide Potgieter in die tweede plek.
Volgens Nicolene Müller, projekkoördineerder van die kompetisie, was dit in albei gevalle naelbyt eindstryde. “Die room van die room het teen mekaar gedebatteer. Die entoesiasme van die leerlinge tydens die streeksuitdunne en die finaal weerspieël dat Afrikaanse debat sterk staan. AfriForum sien uit daarna om die kompetisie in 2024 nog verder uit te brei en oor die hele land heen te versterk.”
Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, noem dat debat ’n vaardigheid is wat leerlinge op verskeie terreine bemagtig en dat dit daarom tot alle deelnemers se voordeel strek om aan hierdie kompetisie deel te neem. “Die groot voordeel van Dink-of-Sink is dat dit werklik ’n onvoorbereide debatskompetisie is en dat leerlinge geen voorbereiding hoef te doen nie, buiten om ingelig oor aktuele sake te wees. Hulle kry hul onderwerpe letterlik vyf minute voor elke debat begin, en weet ook dan eers of hulle vír of téén die bepaalde onderwerp moet argumenteer. Hulle moet dus flink op hul voete dink en dit kon die deelnemers aan die finale rondte beslis uitnemend doen.”