Talle organisasies is betrokke om die gevaarlike veldbrandsituasie wat nou in die Vrystaat heers, te bestuur,
Nege AfriForum-buurtwagte in Bloemfontein het sedert die begin van September gehelp om 26 veld- en twee huisbrande in en om Bloemfontein te blus. Dié buurtwagte het ook gehelp om groot brande wat sedert Augustus verwoesting gesaai het op duisende hektaar veld in die Bultfontein-omgewing te blus.
Benewens dié brande, het lede van die Pellissier-buurtwag, in samewerking met die Mangaung-brandweer, die brandbestrydingsgroep Working on Fire (WoF), die plaaslike sekuriteitsmaatskappy ITR Security, en plaaslike boere, vroeër in Oktober ’n brand in die Kwaggafontein-Brandkop-gebied in Bloemfontein vinnig onder beheer gebring. Daar is intussen vasgestel dat ’n foutiewe kraglyn wat aan die brand geslaan het, die oorsaak van dié brand was.
“Ons het brandbestrydingstoerusting gekoop wat ons bemagtig om in noodsituasies soos dié, die gemeenskap te dien,” verduidelik Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.
“Ons gemeenskap se veiligheid is belangrik en dit stel ons in staat om met die toerusting selfs bystand aan die plaaslike brandweer te lewer. Ek moedig ook boere en kleinhoewe-eienaars aan om deel te word van hul plaaslike brandvereniging en daardeur ook die regte prosedure te volg om beheerde brande uit te voer en brandpaaie te maak om grootskaalse verwoesting te vermy.”
Groenewald het die Bloemfontein-gemeenskap vir hul paraatheid en die rapportering van brande bedank. Hy versoek ook dat die gemeenskap saaknommers van sake waarin brandstigting by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangemeld is, aan die plaaslike AfriForum-buurtwag deur te gee. AfriForum volg dié inligting op om onder meer te bepaal of vervolgings daaruit voortspruit en indien wel watter straf opgelê word.
“Ek is opreg dankbaar aan elke AfriForum-buurtwaglid sowel as die plaaslike brandweer, brandvoorkomings-organisasies, sekuriteitsmaatskappye en die publiek wat hul eie veiligheid tweede stel sodat hulle die gemeenskap kan veilig hou,” sê Groenewald.