Die produksie A Music Affair met die musiekgroep Arco word op Donderdag 9 November by die Urth-konferensie-en-leefstylsentrum buite Bloemfontein aangebied.
Gaste sal kan luister hoe klassieke en populêre musiek ontmoet in ’n dinamiese kombinasie, met Arco se sewe-stuk orkes.
Die gehoor gaan vermaak word met ’n verskeidenheid musiekstyle en unieke musiekverwerkings van bekende nommers waardeur die virtuositeit van Arco se instrumentaliste op die voorgrond geplaas word, sodat die gehoor opnuut die unieke klank van elke instrument kan waardeer.
Donné de Kock Gough, veelsydige violis van die Wes-Kaap, gaan haar viool aan die brand speel, terwyl Arend Brink jr. se bariton-stem saam met sy tromtegniek die gehoor sal vermaak.
Voeg daarby Petrus van Wyk se passievolle kitaar- en stemwerk, Arend sr. se tjello en Debbie Brink se klavierspel, asook Johann van Deventer se basfondament.
Boonop is daar Andries Mostert met sy drie saksofone.
Die volgende instrumentale en vokale gunstelinge uit verskillende genres is onder meer ingesluit in die program: “Don’t stop me now” en “Love of my Life” deur Queen; “Lord of the Dance”; die Love-temalied uit St Elmo’s Fire; “Titanium/Pavane”; “He’s a Pirate”; “Voshaarnooi”; “Follow You” van Imagine Dragons; “Can’t help falling in love”; “Shallow”; die James Bond-temalied; “Eye of the tiger”; en “Somerlag” deur Adam.
Debbie Brink is die artistieke direkteur en musiekverwerker.
Kenmerkend van Arco-opvoerings is die hoë-gehalte vermaak wat in ’n ontspanne atmosfeer vir alle ouderdomme aangebied word.
Kaartjies is teen R180 op quicket.co.za beskikbaar.
A Music Affair
begin om 19:30 by Urth.
Skakel 083-259-2226 vir meer inligting.