Orkes op ontdekkingsreis

As Daniel Boico ’n tema vir die Vrystaatse Simfonieorkes (FSSO) se program vir 2022 sou gee, sou dit “ontdekking” wees.


As Daniel Boico ’n tema vir die Vrystaatse Simfonieorkes (FSSO) se program vir 2022 sou gee, sou dit “ontdekking” wees.

“Terwyl die koronaviruspandemie steeds ’n houvas op die wêreld het, is dit ’n waagstuk om internasionale musici te nooi. Dit bied egter die geleentheid om plaaslike gehore aan talentvolle Suid-Afrikaanse musici en treffende nuwe werke bekend te stel,” sê dié artistieke direkteur wat sedert einde verlede jaar die pos beklee.

“Ek probeer altyd om iets ongewoons, maar genotlik en opwindend, in ’n simfonie­program in te sluit. Volgens my is dit ’n bonus vir enige konsertervaring en iets waarna gehore en musici voortaan in elke FSSO-konsert sal kan uitsien.”

Konsertgangers sal die Japanse komponis Takashi Yoshimatsu se Cyberbird Concerto vir altsaxofoon, perkussie en klavier kan geniet in die konsert wat op 12 Maart in die Sand du Plessis-teater aangebied word.

“Dit is sulke wonderlike toeganklike musiek dat ek nie anders kan as om dit met musiekliefhebbers te deel nie,” sê hy.

Josie McClure (saxofoon) en Emilio Lorenzo (perkussie), wat in die werk optree, is jong Kaapse musici van wie nog baie gehoor gaan word, reken Boico.

Die pianis Christopher Duigan, wat die solistetrio voltooi, is ’n gevestigde solis van Gauteng.

Nog ’n onbekende naam in die jaarprogram is Airat Ichmouratov, ’n Russies-Kanadese komponis, dirigent en klarinetsolis vir wie Boico groot respek het en gevolglik opdrag gegee het om ’n nuwe komposisie vir die laaste FSSO-konsert van die jaar te skep. Dit sal uitgevoer word op die gala-aand van ’n internasionale houtblaaskompetisie in Bloemfontein.

Getroue simfoniegangers sal opgewonde wees oor Gérard Korsten wat volgens beplanning die September-uitvoering sal lei.

In Junie sal Leon Bosch, nog ’n gebore Suid-Afrikaner wat in die buiteland groot hoogtes bereik het, voor die FSSO stelling inneem. Hy was baie jare die hoofkontrabasspeler van die gerekende St. Martin in the Fields-orkes in Londen.

Boico sit steeds sy internasionale dirigeerloopbaan voort. Hy sal in April die Nurenberger Symphoniker lei in ’n konsert wat in 2020 sou plaasvind. Hy tree ook saam met ander Suid-Afrikaanse orkeste op.

Die ander konsertdatums vir die jaar is:

  • 9 April, Sand du Plessis-teater: Erik Dippenaar, klavesimbel en dirigent met plaaslike soliste en kore.
  • 4 Junie, Odeion-teater:

Leon Bosch, dirigent, met James Grace op kitaar.

  • 10 September, Odeion- of Sand du Plessis-teater:

Gérard Korsten as dirigent. Solis moet nog bevestig word.

  • 8 Oktober, Odeion-teater: Airat Ichmouratov as dirigent, saam met finaliste van die Internasionale Houtblaaskompetisie in Bloemfontein.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.