Ontmoet Simon Sebokolodi, wat sy gevorderde diploma in menslikehulpbronbestuur (MHB) cum laud aan die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) verwerf het.
Dié orrelis het die SUT-koor begelei met die sing van die “Seanamarena”-melodie, ‘n gewilde Sotho-feesliedjie.
Sebokolodi is gebore en getoë in Welkom, in die Lejweleputswa-distrik, en is grootgemaak deur ouers wat toegewyde kerkgangers is.
Hy is op ‘n baie jong ouderdom blootgestel aan koormusiek, ‘n stokperdjie wat hom gewild gemaak het onder sy eweknieë op die Welkom-kampus.
“Musiek was nie my passie nie, maar met my hoërskooljare by die Hoër Tegniese Skool (HTS) in Welkom het alles verander. Ek het by die skoolkoor aangesluit, gelei deur mev. Anderson, wat my nie net lief gemaak het vir musiek nie, maar ook my belangstelling in klavierspeel geprikkel het. Ek was dikwels geboei deur die manier waarop sy gespeel het; sy het ‘n unieke aanslag gehad, en haar melodieë het my ook geraak op maniere wat ek my nooit kon voorstel nie.”
Sebokolodi het in 2018 geleer hoe om die kerkorrel te speel.
“Om deel te wees van die kerkkoor het dikwels beteken dat ek klassieke musiek moes speel. Dit was nogal uitdagend, want as ‘n selfopgeleide orrelis kon ek nie die musieknote lees nie. Ek moes baie staatmaak op gehoor, wat baie tydrowend was.”
Ná die Covid-19-pandemie het hy besluit om sy selfgeleerde vaardigheid na ‘n professionele vlak te neem en werk nou aan sy graad 6-klavierstudie.
“Ek speel die orrel vir die SUT-koor. Ek speel ook vir verskeie kerke en die Laerskool Dagbreek. Ek help ook die skool om hul koor vir kompetisies en feeste voor te berei.”
Sebokolodi het egter bygevoeg dat hy musiek as ‘n stokperdjie beskou en nie ‘n loopbaan nie.
“My fokus is om my loopbaan as ‘n menslike hulpbronpraktisyn te bou.”
Hy het gesê sy gradeplegtigheid het ‘n gevoel van trots en prestasie gebring, aangesien dit nie net sy
akademiese uitnemendheid nie, maar ook sy toewyding en deursettingsvermoë weerspieël.
“Gegewe die vlak van toewyding om my studies, koordeelname en klavierspel te balanseer, voel dit selfs meer lonend om so ‘n eer te behaal.
“Vir my dui dit op die vermoë om meer as een ding op ‘n slag suksesvol uit te voer. Wat belangriker is, is ‘n kombinasie van dissipline, tydsbestuur en kreatiwiteit.”
Sebokolodi doen nou ‘n nagraadse graad in MHB en hoop om daarmee uit te blink.
