Ma se handskrif was iets tussen dié van ’n haastige dokter en ’n kleuter wat pas leer skryf het.
Ek raai dat sy waarskynlik net soveel swak rapporte in haar eerste skooljare gekry het as ek.
“Igno probeer hard, sy skrif moet net verbeter.”
Haar bloupen-krapgang wanneer sy my adres op die koevert geskryf het, het my waarskynlik van heelwat opstote en opsitte gered toe destydse weermagkorporaals briewe uitgedeel het.
Briewe van meisies was dikwels geadresseer met krullerige handskrifte en selfs gedoop in parfuum. Dalk was dit lekker vir hulle om te hoor dat hul brief heelwat opsitte deur ’n geliefde troepie veroorsaak het.
Briewe.
Ek onthou hoe ons as kinders, met Boetie Frans as leermeester, briewe aan maatskappye geskryf het. Ons het die name en adresse op die geel bladsye van die telefoongids gekry en dan briewe gestuur – in ons beste laerskoolhandskrif.
Geagte Meneer So-en-So, ek is ’n plakkerversamelaar . . . versoeke vir plakkers of “stickers”.
Anders as die gelynde skryfblokpapier waarop ons vir plakkers gevra het, was daar die kleurryke prentjie-versierde skryfblokpapier wat dikwels nie horisontale lyntjies gehad het waarop ’n mens kon skryf nie – dié wat netjies wou wees het dikwels ’n bladsy met lyntjies onder die skryfblok-bladsy geplaas.
Buiten my versameling weermagdae-briewe van Ma, en dié wat ek van my sibbe en ’n paar vriende ontvang het, was daar briewe wat ons so dan en wan met ouma verwissel het wanneer sy haar seisoen by ander familielede gaan deurbring het. Die briewe was huislik, menslik en persoonlik.
Saam met foto-albums, poskaarte en skyfievertonings was briewe die storie-draers van ’n geslag.
Wanneer ’n brief gekoevert was, het die laaste stappe gevolg. Posseëls is op die regterkantse boonste hoek geplak. Uiteindelik was daar die toeplak van ’n koevert nadat ’n mens die brief geskryf het. Die gomsmaak op jou tong voordat jy ’n kruisie of ’n glimlag oor die plakdriehoek trek. Die emoji’s van daardie era.
Die keuse van skryfblokbladsye en koeverte, die sagte reuk van iemand se parfuum en die identiteit van ’n persoonlike handskrif het ons deur posbusse aan mekaar verbind. Die vreugde om iets tasbaar mensliks tussendeur amptelike vensterkoeverte te ontvang.
Die sand van tyd het deur die uurglas van verpersoonliking gesyfer. E-posse en ander digitale oplossings het ons meer effektief gemaak; maatskappye druk nie meer plakkers nie. Die poskantoor is deur politici afgetakel en briewe en seëls is deur kitskommunikasie op selfone vervang.
Ek haal soms my versameling briewe uit. Lees hier en daar. My ma is jare gelede oorlede – ongeag dat sy weg is, die poskantoor verlam is, en die skrif hier en daar verbleik – is daar iets aan die briewe wat haar lewend hou. Ek voel haar omgee. Intussen word die sosiaal-digitaal hiper-gekonnekteerde geslag waarvan ek nou deel is al hoe eensamer.