Daar is goeie nuus rakende herstelwerk by die Ou Presidensie, waaroor verlede jaar ’n bohaai losgebars het.
Inwoners van Bloemfontein het foto’s oor die verval van dié provinsiale museum op die sosiale media gedeel. Daarin kon duidelik gesien word dat die gebou waterskade opgedoen het en hoe verf van mure en plafonne afskilfer.
Kort daarna is ’n taakspan gestig wat saam met die Vrystaatse departement van sport, kuns, kultuur en rekreasie, die Ou Presidensie- Historiese Vereniging, die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en ander belangegroepe gesels het oor die opknapping wat gedoen moet word. Die museum word deur dié departement bestuur.
AfriForum het begin om die tuine, wat erg verwaarloos was, op te knap en in stand te hou.
Die LUR vir sport, kuns, kultuur en rekreasie, Maki Mahasa, het op ’n vraag van VF Plus-wetgewerlid Armand Cloete gesê die Ou Presidensie is een van die geboue wat aandag sal kry in dié departement se begroting vir die 2023-’24-boekjaar.
Mahasa het in antwoord op Cloete se vraag gesê die provinsiale tesourie begroot vir die onderhoud van geboue.
In die komende boekjaar gaan die departement volgens haar onderhoud doen aan geboue van kulturele belang soos die Ou Presidensie en die Wesleyaanse kerk omdat dit erfenisgeboue is wat vir toekomstige geslagte bewaar moet word.
“Hoewel ons alle erfenisgeboue ewe belangrik ag, sal daar nou onder meer op die Ou Presidensie gefokus word,” het sy in antwoord op sy navraag geskryf.