’n Groot verskil is aan die historiese Ou Presidensie in Pres. Brandstraat se erg verwaarloosde tuin gemaak in ’n poging om dit eersdaags weer soos ’n lushof te laat lyk.
Staatsamptenare het Vrydag (08/07) skoongemaak en gaan skoffel.
Saterdag het lede van die VF Plus en die Ou Presidensie- Historiese Vereniging in Bloemfontein ook hul oggend opgeoffer om te skoffel en vullis weg te ry.
Adriaan de Bruyn, VF Plus-LP, het toerusting uit sy eie sak gekoop om ’n waterlekplek te herstel en self die gat in die grond oopgekap om by die lekplek uit te kom.
Dit kom nadat BloemnuusDonderdag oor die verval van dié museum berig het nadat foto’s wat op die sosiale media versprei is.
“Ons het ook ’n skip van 6 m3 bestel waarin die vullis en onkruid weggery kon word,” sê de Bruyn.
Hy sê dit was lekker om te sien hoe vrywilligers met hul tuingereedskap opdaag en saam werk.
Die onkruid in die voortuin is nou uitgeroei.
“Daar sal minstens nog twee of drie keer daar gewerk moet word om die onkruid aan die kante en aan die agterkant van die gebou weg te skoffel en om beddings rondom die roosbome en ander plante te maak.”
Hy sê hulle het prentjies gesien van hoe mooi die tuin vroeër met sy wit rose gelyk het en wil die tuin só herstel.
Lambertus van Rensburg, voorsitter van die Ou Presidensie- Historiese Vereniging, het die vereniging se lede en ander mense wat kom help het vir samewerking en harde werk bedank.
Hy het vroeër gesê ’n vergadering is met lede van die Vrystaatse departement van sport, kuns, kultuur en rekreasie gehou om te bespreek hoe die Ou Presidensie binne herstel en opgeknap kan word.
’n Opvolgvergadering met belanghebbendes word op 27 Julie om 15:00 gehou.
Intussen sal hul vereniging en die departement kwotasies aanvra vir die herstel van die lekkende dak. Daar gaan gekyk word hoe die Persiese matte gerestoureer kan word en hoeveel geld nodig is.
Van Rensburg sê Saterdag se werk was “die oortjies van die seekoei” en dat nog baie werk nodig is.
Hy sê daar was al die tyd net een tuinier wat die departement aan die Ou Presidensie afgestaan het, maar nou is daar agt.
“Al agt was weer Maandagoggend daar om ’n verskil in die tuine te kom maak.
“Ons gaan nie ophou voordat die tuine weer ’n sieraad is nie.”