Ou tender knou ’n man

Elke dan en wan duik stories oor oom Swys, al jare salig, langs die vleisbraaivuur op.


Elke dan en wan duik stories oor oom Swys, al jare salig, langs die vleisbraaivuur op.

Oor die dooies skinder ’n mens nie, preek Vroulief dan. Tog glimlag sy oor die doen en late van oorlede oom Swys.

Saterdag langs die vuur het sy selfs gegiggel toe Neil in dié onthoupraatjies droogweg vra: “Dink julle oom Swys word naby die goue poorte toegelaat?”

Want sien, oom Swys was in lewe ’n man van deugde en ondeugde. Sy ondeugde aangevuur deur sy liefde vir rand en sent.

Hy het gekoop en gesmous: diervelle om vir leer gelooi en gebrei te word, bene vir die maak van beenmeel . . .

Vervaardiger, verskaffer en tenderpreneur was hy ook. (Ja, tenderpreneurs is mos al daar van Noag en Sap en Nat se tyd af, en nie skielik van 1994 af nie. Vra maar die ou stadsklerk oor die tonne bakstene wat stadsraadslid Swys se steenmakery aan die munisipaliteit gelewer het. Vra ook die ou resident-padingenieur vir wie oom Swys uit sy gruisgat klip en sand op tender aangery het, oor die baantjies vir boeties destyds.)

As raadslid het oom Swys hard vir die belange van die stad se mense geveg en baie vir die inwoners vermag. As diaken en later hoofouderling het hy vir jare sy kant in die kerk en vir die gemeente gebring. Onder baie was oom Swys geliefd. Onder ander minder geliefd. Vir baie was hy ook allermins lief.

Oor boetes vir sy onpadwaardige lorries en lisensies wat verval het, was hy en die hoofspietkop in ’n nimmereindigende oorlog.

Ná die hofsaak en boete oor die skaap wat hy téén die munisipale regulasies in sy tuin geslag het, het hy lank geen liefde gehad vir die dienaars van die gereg en hof nie.

Vir die koerantredakteur was hy briesend omdat die storie op die voorblad gepubliseer is, ingesluit die feit dat hy dié dorpslagtery uit die koerant probeer hou het met ’n omkoopaanbod van ’n “netjies opgesnyde slagdingetjie”.

By die vleisfabriek waar oom Swys bene vir beenmeel gekoop het, is hy later verbied. Dit nadat hy herhaalde kere vermaan is om nié skelmpies die skaal met die skoen op te druk nie.

“Die punt van daai man se Grasshopper staan al vanself met ’n punt boontoe. Julle moet hom Sondae in die ouderlingbank onder gebed kyk. Hy loer met die een oog oop wie hy volgende gaan verneuk,” het die man van die vleisfabriek destyds gesê.

Neil sê sy gunsteling-storie oor oom Swys bly nou maar eenmaal die een wat ou dominee altyd al laggend vertel het. In jare van munte en note bymekaarhark, het oom Swys nooit ’n rusdag gevat of met vakansie gegaan nie. Toe bespreek hy vir hom en die vrou een van daardie drie weke lange bustoere in Israel.

Ná hul terugkeer vra ou dominee in ’n kerkraads­vergadering in die konsistorie: “Nou broer Swys, vertel ons van jul reis.”

En oom Swys antwoord: “Dominee, die aangrypendste vir my was toe ek daar in die beloofde land voor daardie klaagmuur staan. Toe ek daardie muur so staan en kyk . . toe wens ek ek kon daardie tender gekry het.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.