Tydens die groot reünienaweek van oudstudente en oud-dosente van die destydse Bloemfonteinse Onderwyskollege (BOK) van 30 September tot 1 Oktober in die stad, was daar ’n sigbare band wat almal saambind.
Dr. Carna Vorster, oud-dosent en mede-organiseerder van die reünie, sê die liefde vir die BOK sal altyd in hul harte ’n ereplek hê.
Die instansie, wie se deure in 2003 finaal gesluit het weens wetgewing wat verander het, het ’n groot impak op onderwys in die Vrystaat en landswyd gehad danksy gehalteonderwysers wat hier opgelei is.
Vorster sê die BOK het al die jare gesorg vir soliede, rotsvaste opleiding van bekwame onderwysers wat op voortreflike wyse die onderwysprofessie gedien het.
Van die oud-dosente wat die reünie bygewoon het, sluit in dr. Manie Wolvaardt, Tienie Marais en Estelle van Niekerk wat nog deel was toe die kampus in Parkweg was.
Oud-dosente aan die nuwe kollege by die nuwe kampus was dr. Willem van Deventer, dr. Susette Brynard, Emsie Botha, Retha van Coller, Benje Deacon, Paul en Francine van Rooyen en Neels Swanepoel.
Talle oud-skoolhoofte was ook op die reünie.? Dit sluit in Perd Meyer (Laerskool Brandwag), Daan Potgieter (Laerskool Pres. Brand), Laurie Bester (Laerskool Koot Niemann), Daan Niewenhuizen (Laerskool Boshof), Jan Ackerman (Laerskool Onze Rust) en Michael Coomans (Laerskool Unversitas).
Skoolhoofde en onderhoofde van skole wat daar was, sluit in Adri Albertyn (Laer Meisieskool Oranje), Anita Fourie (oud-BOK SR-voorsiter en adjunkhoof by Oranje), Mike Jacobs (Laerskool Sentraal), Riekie Venter (Laerskool Dr. C.F. Visser), Marius O’Neill (Laerskool Onze Rust) en Jaco van der Merwe (Laerskool Sand du Plessis).
Drie eregaste en oudstudente wat uitgestyg het en deesdae hul kennis terugploeg by die onderwysdepartement as onderwysspesialiste, is Julia Dikana, Rifiloe Buhami en Florence Khopshane.