‘n Tweede oud-leerling van Grey-kollege verskyn Woensdag 4 Junie in die televisie-reeks Binnelanders.
Logan Landman (21), sluit hom van Woensdag af aan by ‘n ander oud-leerling Chartyn Van Heerden wat reeds in die reeks op kykNET te sien is. Logan of eerder Logan W. James wat hy as sy professionele naam gebruik, wat aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) drama studeer het en deesdae in Johannesburg woon, se karakter verskyn die week vir die eerste keer in die reeks en sal spanning in Binnelanders laat bou.
Binnelanders se 15de reeks word nou op kykNET en ook op Showmax vertoon.

Logan is ‘n deurwinterde akteur met ‘n sterk agtergrond in musiekblyspele en was dikwels op die verhoog in Bloemfontein in rolle in Everyman, How to Wuzz, Run for Your Wife en die jaarlikse Afrikadag by die UV. Hy was in drie van Xander Steyn se produksies van The Rabbit Studio: Peter Pan, Aladdin en Tangled.
“As Oud-Grey en trotse Kovsie, is dit vir my ‘n groot oomblik,” sê James in ‘n nuusverklaring. “Baie van ons het in ons grootwordjare na Binnelanders gekyk en nou gaan ek deel daarvan wees. Dit is onwerklik en ek is baie opgewonde om iets nuut na die skerm te bring,” sê hy.

Logan se ouers, Lynne en Werner Landman, sê hulle is baie trots op Logan. “Ons weet dat hy sukses sal behaal met alles wat hy in die toekoms gaan aanpak,” sê Lynne.
Logan verteenwoordig ‘n nuwe generasie Vrystaatse talent wat nou nasionaal en internasionaal hul buiging maak. Nog ‘n oud-Bloemfonteiner Mia-Anne O’Kennedy, ‘n voormalige onderwyser by Grey, is ook in die reeks te sien.
Oor die rol wat hy in Binnelanders vertolk, sê Logan dit is anders as enige ander rol wat hy nog vertolk het. “Ek is opgewonde dat die gehoor die karakter ontmoet en beleef hoe die storie ontknoop.”
Lees Donderdag in BloemNuus meer oor hul karakters.
You must be logged in to post a comment.