’n Voormalige werknemer van Volksblad het behoorlik gekook op Bloemskou, in die kreatiewehandwerk-afdeling vir gebottelde produkte.
Die Bloemfonteiner Petro Jordaan (64), wat in Oktober 2020 as persoonlike assistent van Volksblad se redakteur en hoofbestuurder afgetree het, het ’n magdom pryse op vanjaar se skou ingeoes.
Van die 24 produkte wat sy ingeskryf het, het sy 12 eerste plekke, 5 tweede plekke en 3 derde plekke behaal – en sy het boonop 4 spesiale pryse en 2 gesogte trofeë verower.
Jordaan is met die Polly Richter Silwer-wisseltrofee vereer as die deelnemer wat algeheel die meeste punte in die afdeling vir gebottelde produkte behaal het.
Sy het, soos verlede jaar, ook die Dolores Laubscher-wisseltrofee vir die meeste punte in die gebottelde produkte se sitrusafdeling verwerf.
Die spesiale pryse word aan uitstekende inskrywings toegeken.
“Hemel, nee, ek het nie gedink ek gaan só goed doen nie,” sê Jordaan.
“Ek het ’n vreeslike klomp goed ingeskryf.
“Ek het wel ’n paar eerste plekke verwag – daar is items waaroor ek regtig seker was.”
Jordaan het verlede jaar maar ses produkte ingeskryf waarmee sy vier eerste plekke en twee tweede plekke, asook twee spesiale pryse en die Dolores Laubscher-wisseltrofee, verwerf het.
Sy het verlede jaar die eerste keer aan dié kompetisie deelgeneem.
Jordaan, van die Roodewal-buurt, sê sy is lankal lief daarvoor om produkte te bottel, maar dié liefde het ná haar aftrede vlamgevat.
“Ek het iets gesoek om my besig te hou. Nou is dit vir my so lekker om dit te kan doen en te verkoop sodat ander mense dit ook kan geniet,” sê Jordaan.
Sy stal haar lekkernye sedert Februarie 2022 op Saterdae by die Langenhoven mark in Langenhovenpark uit, waar sy goed ondersteun word.
Op die mark het sy met drie produkte begin: ingelegde pere, gepekelde knoffel en heuning. Nou het sy al veel meer as die 24 produkte wat sy vir die Bloemskou-kompetisie ingeskryf het.
“Ek het nie eens besef ek het soveel produkte nie.”
Konfyte, jellies, marmelades, gepekelde produkte en strope tel onder haar spesialiteite.
Jordaan sê baie van haar produkte kan saam met kaas en soutbeskuitjies geniet word, soos onder meer haar vye-en-beet-stukkonfyt. Sy is lief daarvoor om te eksperimenteer en ongewone kombinasies saam te voeg, en skerts dat sy ietwat na Hilda van die eertydse 7de Laan aard.
“Ek probeer nie net die tradisionele goed soos appelkoos-, aarbei- en tamatiekonfyt nie – ek het dít ook – maar ek maak ook snaakse goed.”
Sy maak onder meer ’n rooiturksvy-en-pruim-stroop wat selfs in ’n jenewertjie geniet kan word.
Jordaan het nie ’n gunsteling-produk nie, solank dit mooi lyk en lekker smaak.