Die grootste groep leerlinge wat nog aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein matrikuleer het, het op Saterdag 9 April reünie gehou.
In 1971 het sowat 220 leerlinge hul skoolopleiding aan dié skool voltooi – die grootste matriekgroep in die skool se bestaan van 117 jaar.
Volgens Charlotte le Roux, lid van die reüniekomitee, het die groep 22 maande aan die reünie gewerk.
Altesaam 57 lede van die klas het opgedaag.
“Op ’n dag in Februarie 2020 het ek besef dat ek 50 jaar gelede matriek geskryf het,” sê Le Roux.
Sy het besluit dat dit tyd is vir ’n byeenkoms en het na haar skoolmaats begin soek.
Rina Kotzé (née Taute) meen die Covid-19-pandemie het hulle eintlik goed gedoen – al het dit hul planne in die wiele gery.
“Ons het klein groepies gevorm en mense in verskillende provinsies het intussen bymekaargekom en gekuier.”
Le Roux sê hulle is ’n lekker saamstaangroep.
“Regte, egte Tralies.”
Sy het dit eerstehands beleef ná ’n traumatiese ervaring.
“Al hierdie mense – selfs dié met wie ek nie eens op skool vriende was nie – het my met hul gebede gedra. Dit sê darem vir ’n mens iets, of hoe?”
Die byeenkoms is in die Blue Gem-restaurant gehou.
’n Skoolbaadjie van 1971 en ’n skoolwapen wat deur die 1945-matriekgroep aan die skool geskenk is, kon besigtig word.
Volgens Kotzé is die spesiale band tussen die oud-Tralies so heg dat hulle oor en weer sal kuier vir so lank hulle nog kan.
Die huidige hoof van Sentraal, Charles Liversage, het ook die byeenkoms bygewoon.