Oud-veterane kry steun

Die Veterane-bystandfonds, het op 2 Augustus 504 kg se wildsvleis aan drie bejaardesorgsentrums in Bloemfontein geskenk.


Die Veterane-bystandfonds, het op 2 Augustus 504 kg se wildsvleis aan drie bejaardesorgsentrums in Bloemfontein geskenk.

Ons Tuiste en Aandrus by die Westerbloem-aftreeoord asook veterane van Vrystaat-bejaardesorgsentrum, het voordeel uit dié skenking van vleis asook ’n kontantskenking, getrek.

’n Skenking vir veterane se behoeftes ter waarde van R25 000 is aan Ons Tuiste gemaak en ’n skenking van R20 000 elk aan Aandrus en die Vrystaat-bejaardesorgsentrum.

Jack de Beer is die provinsiale verteenwoordiger van Veterane-bystandsfonds wat in 2019 gestig is om humanitêre hulp aan behoeftige oorlogsveterane wat in die jare 1960 tot die jare 1990 diensplig gedoen het, te verleen.

“Die veterane wat destyds as jongmense diensplig gedoen het, het baie opofferings gemaak en ons voel dit geregverdig om hulle nou in hul gevorderde jare op allerlei maniere te ondersteun en te help waar behoeftes is. Ons fokus daarop om veterane in nood landwyd by te staan en te help met kos, klere, mediese kostes en verblyf,” sê De Beer.

“Geld wat hiervoor gebruik word, kom uit geldelike skenkings van die publiek en verskeie sakelui.”

Hy sê sedert 2019 toe die fonds gestig is, het die getalle van veterane baie toegeneem.

Tydens die skenking het Esthé de Beer, voedseldiensbestuurder by Ons Tuiste, haar dank uitgespreek oor die skenking.

  • “Ons kry nie baie skenkings van vleis nie – dit is wonderlik.” Rig navrae oor die fonds deur ’n e-pos te stuur na jack@veteransaidfund.co.za.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.