Ouderdom briek nie die Bloemfonteiners se langpadavonture nie

’n Groep Bloemfonteiners wat wys dat die lewe selfs meer pret kan wees ná 60, is gereed om weer die lang pad te pak met hul motorfietse.


’n Groep Bloemfonteiners wat wys dat die lewe selfs meer pret kan wees ná 60, is gereed om weer die lang pad te pak met hul motorfietse.

Lede van die Ulysses-motorfietsklub in Bloemfontein en enkele mense uit Welkom pak op Saterdag 17 Junie om 09:00 die lang pad van hier tot by die Victoria-waterval in Zimbabwe aan.

Een van die klublede wat saamgaan is die 74-jarige Sybil Vorster wat die roete gaan aandurf op haar BMW 1 200 GS. Soos ander lede van die klub, sien sy baie uit na die toer.

Hannes Wentzel (68) is die toerleier van die groep. Die toer oor 5 000 km sal oor 12 dae afgelê word en hulle sal daagliks sowat 500 km ry.

Ander groeplede wat hulle regmaak vir die avontuur, is Matt Kotze (72) en sy vrou, Ona (70) wat die roete gaan aflê op hul BMW 1 200RS.

“Ek slaap heerlik agter op die motorfiets terwyl Matt bestuur,” vertel Ona.

Sy verkies om passasier te wees en sê hulle ry die wêreld vol met die motorfiets.

Hannes gaan die toer lei op sy Suzuki Hyaybusa 1 300. Enkele van die ander klublede wat saamgaan, sluit in Gerrie Oosthuisen (70) op sy BMW 1600 cc, Martin Deysel (70) op sy BMW 1 250 cc en Joe van Zyl (70) op ’n BMW 1 200 GS.

Hannes sê die klub toer gereeld en het verlede jaar Weskus toe getoer en het in Mei na Amanzimtoti gery.

In Oktober gaan lede van die plaaslike tak van die internasionale Ulysses-klub, waarvan almal ouer as 40 jaar moet wees, na die Baffalo-saamtrek in Hartenbos.

Die roete na Victoria-waterval gaan via Upington, Windhoek, Grootfontein, Rundu, die Caprivistreek, Katimo Malilo na die valle en terug via Pandamangtenga, Francis Town, Swartruggens en terug na Bloemfontein.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.