Oudisies ontgin talent

Oudisies vir die Heidedal Musiek-ekspo vind Saterdag 10 Februarie en Sondag in die Norman Doubell-saal in Heidedal plaas.


Oudisies vir die Heidedal Musiek-ekspo vind Saterdag 10 Februarie en Sondag in die Norman Doubell-saal in Heidedal plaas.

Dr. Nathan Bagarette, ’n organiseerder van die ekspo wat verskeie musiekwerksessie en ’n konsert op Vrydag 15 Maart insluit, sê die oudisies wat dié naweek plaasvind, is oop vir almal.

“Dit is nie net vir jongmense van Heidedal nie, maar vir almal met musiektalent wat graag in hul kunsvorm wil verbeter.”

Jongmense van ses jaar tot 36 kan hulle die naweek vir die besonderse musiek-ekspo inskryf.

Bagarette verduidelik die oudisies gaan die vorm aanneem van uitdunne soos in die TV-reeks Idols waar die beste kunstenaars gekies gaan word om aan die program deel te neem.

“Ons is op soek na talent onder ons jongmense om dit verder te ontwikkel en vir hulle geleenthede te bied,” verduidelik hy.

Die afdelings waarin oudisies afgelê kan word, is vir sang, musiekgroepe (bands), instrumentaliste, rappers, musikale digters (gedigte saam met musiek) en deejays.

Deelnemers wat ’n musiekinstrument bespeel, kan dit saambring.

Registrasies is op albei dae van 08:00 en die oudisies sal van 08:00 heeldag tot 16:00 op Saterdag en 14:00 op Sondag wees..

Uit die deelnemers sal talentvolle kandidate gekies word om van 11 tot 15 Maart aan verskeie werksessies deel te neem waarin hulle meer sal leer oor die musiekbedryf en die uitvoering van hul kunsvorm.

Professionele mense uit die gemeenskap sal die werksessies aanbied.

“Musiek bring mense bymekaar,” meen Bagarette.

“Die projek bied ook ’n platvorm waar rou talent van jongmense verder ontwikkel kan word.”

Hy sê tydens die musiekwerksessies sal daar ook baie gefokus word op ’n boodskap dat jongmense nie dwelmmiddels moet gebruik nie.

Die tweede belangrike boodskap wat die organiseerders onder jongmense wil vestig, is dat geslags-gebaseerde geweld vernietigend is en nie aanvaarbaar is nie.

“Die groep wat gekies word, gaan werk aan twee liedjies oor dié onderwerpe wat tydens die vertoning op 15 Maart opgevoer gaan word.

Voornemende deelnemers kan navrae oor die naweek se oudisies rig deur 076-272-2136 te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.