Oudleraar vier 100 j.

Hy was so dankbaar dat mense van ver gekom het om die groot verjaarsdag saam met hom te vier.


Hy was so dankbaar dat mense van ver gekom het om die groot verjaarsdag saam met hom te vier.

So sê ds. Neels Olivier wat op Maandag 8 Julie sy 100ste verjaarsdag by sy meenthuis in Fleurdal, Bloemfontein, gevier het.

Sy dogters, Louise Taljaard (68) van Bloemfontein, en Maretha Badenhorst (69) van Roodepoort, het Saterdag en Maandag familie en vriende met ’n partytjie trakteer.

Louise sê dit is kosbaar om nog ’n pa te hê.

“Familiekuiers beteken vir hom regtig baie,” sê sy.

Olivier is in 1924 in Senekal gebore en was een van sewe broers. Hulle het ook ’n suster gehad.

Hy het ná skool in Wellington studeer om as sendeling te werk en het Suid-Sotho geleer wat hy later baie in sy bediening gebruik het.

Olivier het later vir Ans Schoeman ontmoet, en hulle is op 20 Julie 1948 in die NG kerk De Bloem getroud. Sy was ’n onderwyseres en van Graaff-Reinet afkomstig.

Tydens Olivier se bedieningstydperk in Reitz is die egpaar se oudste twee dogters gebore. Annalene Maritz (74) woon in Leisure Bay by Durban, en Ronelle Hoogenhout (73) in Gordonsbaai.

Louise en Maretha is gebore toe hul ouers in Warden gewoon het.

Van hier het die bediening die Olivier-gesin na Bethlehem geneem waar hulle langer as tien jaar gewoon het voordat die Oliviers na Welkom en Virginia verhuis het.

Die Olivier-egpaar het ná hul aftrede in 1989 na Bloemfontein verhuis.

Ná 73 gelukkig getroude jare is Ans kort voor haar 98ste verjaardag oorlede.

Maretha sê hul ouers was vir hulle ’n mooi voorbeeld.

“Hulle was vir almal ’n goeie voorbeeld van hoe om getrou aan mekaar te bly en om ’n godsdienstige lewe na aan die Here te lei,” sê sy.

“Ons gesin was baie lief vir tennis. Pappa het as ons afrigter opgetree en hy was altyd langs die tennisbaan om ons te ondersteun.”

Olivier het al vier sy dogters in die eg verbind en ook 11 kleinkinders uit die NG kerk gedoop.

Daar is nou 18 agterkleinkinders.

“Pappa sê kinders gee vir jou ’n vol lewe as die familie in geloof geanker is.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.