Oudsoldaat roerend onthou

Weermagveterane het die naweek by die Vrouemonument in Bloemfontein se gedenknaald die laaste eer aan oud-maj. Johan “Barries” Barnard (62) betoon.


Weermagveterane het die naweek by die Vrouemonument in Bloemfontein se gedenknaald die laaste eer aan oud-maj. Johan “Barries” Barnard (62) betoon.

Barnard, wat aan die Pantserskool en 1 Spesiale Diensbataljon (1 SDB) in Bloemfontein verbonde was voordat hy in 1999 uit die weermag getree het, is op 26 Junie oorlede.

’n Roudiens is op 5 Julie in die NG kerk Bloemheuwel vir hom gehou.

Die oudsoldaat was by verskeie organisasies vir weermagveterane betrokke.

Hy was by sy dood die eienaar van die Bloemfonteinse klerefabriek Di Stefano Fash­ions, wat hy ná sy uittrede uit die weermag geopen het.

Barnard was ook ’n voormalige president van die Suid-Afrikaanse Nasionale Boksorganisasie (Sanabo) en ’n oudbestuurslid van die Vrystaatse Sportkonfederasie (FSSC).

Hy het in 2008 op die Olimpiese Spele in Beijing, China, as boksskeidsregter opgetree.

Volgens sy vrou, Zenobia, is hy op 31 Mei in 3 Militêre Hospitaal in Bloemfontein opgeneem en die aand van 2 Junie na die Life Rosepark-hospitaal oorgeplaas, waar hy tot sy dood gehospitaliseer was.

Lede van verskeie organisasies vir weermagveterane was onder diegene wat op Saterdag 13 Julie byeengekom­ het om van hom afskeid te neem.

“Barries sal onthou word vir sy vriendelikheid, sy geesdrif, sy liefde vir die mense rondom hom, sy bereidwilligheid om oral sy gewig in te gooi . . .” het die bekende oudsoldaat en -recce Wynand du Toit in ’n huldeblyk op die gedenkdiens gesê.

Du Toit het van Upington gekom om hulde aan sy vriend te bring.

“Barries is nie meer met ons nie, maar Barries is eintlik vir altyd met ons. Want elkeen van julle is ’n getuienis van Barries – sy organisasie­vermoë sal ons mis, sy fantastiese persoonlikheid sal ons mis. Ons sal vir Barries mis, maar ons sal hom nooit ooit vergeet nie.

“Ek dink hy spreek tot elkeen van ons hier vandag – leef met passie, verdra mekaar, wees lief vir mekaar, want ’n einde kom onverwags,” het Du Toit gesê.

Volgens hom het Barnard altyd met trots van sy gesin gepraat.

Hy word onder andere oorleef deur sy vrou en hul dogter en skoonseun, Zenobia (jr.) en Jaco Venter.

Die gedenkdiens en kranslegging­seremonie is gereël deur Klub Omuthiya, waarvan Barnard­ die sekretaris was. Dit is ’n Bloem­fonteinse klub vir veterane van 61 Gemegani­seerde Bataljon, maar is ook oop vir veterane van ander eenhede.

Reg Walkerley, voorsitter van dié klub, het die program gelei en kapelaan Tommy Lessing­ het die boodskap gebring.

Kranse en kruise is op die trappe voor die monument en gedenknaald gelê.

Parade-sers. maj. Christo Joubert het Barnard se mili­têre medaljes namens Klub Omuthiya op die diens aan Zenobia sr. oorhandig. Die weermag­veterane het ook in eerbetoon op parade gestaan.

Lessing het op die diens gesê Barnard het opgestaan vir dit waarin hy glo. Hy was reguit, hoewel privaat.

Hy het ook ’n huldeblyk van oudgenl. Hans Heinze, eertydse bevelvoerder van die Kommandement Oranje-Vrystaat, voorgelees. Heinze was ook op die diens.

Lessing het sy boodskap op 1 Kor. 15:26 geskoei.

“Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.”

You need to be Logged In to leave a comment.