Gemeentes moet ’n kopsprong maak om mense ouer as 65 jaar meer aktief betrokke te kry by die bedrywighede van die kerk.
Dit was die boodskap van dr. Petrus Moolman, wat ’n gerontologiese pastoraat by die NG gemeente Overkruin in Pretoria beklee, tydens ’n gerontologiese seminaar wat Vrydag (28/10) en Saterdag by die NG kerk Aandbloem by Westerbloem in Bloemfontein aangebied is.
Gerontologie is die wetenskap van veroudering.
Moolman verduidelik tydens die drie sessies wat telkens op verskeie groepe gefokus was, is daar in diepte gepraat oor aksieplanne om senior gemeentelede aktief betrokke te maak by die gemeente. Vrydag was kerkleiers byeen om te gesels oor hoe ouer gemeentelede waarlik kan lééf.
“Die aantal gemeentelede ouer as 65 jaar word al hoe meer, en daar moet ’n fokusverskuiwing kom weg daarvan om slegs bejaardes te bedien, na die maniere waarop bejaardes steeds ander kan dien.”
Hy sê mense word ouer, en slegs sowat 6% van gemeentelede moet versorging ontvang.
“Die res kan ’n positiewe bydrae lewer en moet liggaamlik, geestelik en godsdienstig toegerus word om ander te kan dien.”
Moolman is ’n sprekende voorbeeld van hoe ouer gemeentelede steeds voluit kan leef en ’n bydrae tot die samelewing kan maak.
Hy het in 2018 op die ouderdom van 76 sy doktorsgraad in praktiese teologie aan die Noordwes-Universiteit behaal, met die fokus van sy studie op gerontologie uit ’n pastorale perspektief. Sy navorsing het gehandel oor aspekte wat ouerwordende mense se betekenisvolle veroudering bedreig.
Hy het sy eerste vrou, Rita, op ’n vroeë ouderdom weens Alzheimer se siekte verloor, nadat hy haar sewe jaar lank versorg het.
Hy sê hoewel dit ’n moeilike tyd in sy lewe was, was dit vir hulle ’n baie spesiale tyd. Hierdie ervaring het ook aanleiding gegee tot ’n skerp fokus in sy belangstelling en studie van demensie en Alzheimer se siekte in die besonder.
Moolman het reeds twee boeke uitgegee: die eerste in 2019 met die titel Meaningful Ageing, en vanjaar Lééf: ’n Vars kyk op seniorvolwassenebediening in die Geloofsgemeenskap.