’n Bewusmakingsdag vir mense met serebrale gestremdheid (CP), waarop die voordele wat perdry vir hulle inhou verduidelik word, word Saterdag by die Elanzi-stalle in Bainsvlei aangebied.
Veronique Kruger, ’n arbeidsterapeut van Big Strides-arbeidsterapie wat perde in haar sessies inspan, sê die doel met die dag is om bewustheid te skep en om vir ouers met kinders met hierdie gestremdheid te wys hoe perde suksesvol gebruik kan word om sulke kinders te help.
Sy bied die dag saam mat die liefdadigheidsorganisasie Khanya for Life aan.
Kinders sal die kans kry om perd te ry.
Alexia Augousti (17), wat serebraal gestremd is, gaan Saterdag daar wees om ’n hand te gee. Sy kry van jongs af terapie en het al talle operasies ondergaan om haar meer beweeglik te maak. Sy het sowat sewe jaar gelede begin perdry en so goed gevorder dat sy sedert so drie jaar gelede selfs aan kompetisies deelneem.
Kruger sê Alexia se familie kon die groot verskil sien wat perdry in haar fisieke vermoë en ontwikkeling, asook sosiale ontwikkeling, meegebring het.
Ook Arina Nicolaisen, wat ruitersport beoefen, gaan Saterdag kom help. Sy ry al sedert tweejarige ouderdom perd en neem deel aan dressuur en skou.
Die bewusmakingsdag duur van 09:00 tot 12:00. Rig navrae aan Kruger deur haar by 064-535-3464 te bel.