’n Ouerpaar van Bloemfontein het saam ’n boek uitgegee vir hul enigste dogter nadat sy twee jaar gelede aan komplikasies weens diabetes oorlede is.
Debbie Deutschmann het die boek Precious Gem geskryf om hul dogter, Gemma (13), se lewe te huldig en om haar op- en afdraande pad met hiperinsulinisme, ’n seldsame siekte waar die pankreas te veel insulien afskei, te deel. Haar man, Michael, het die boek geredigeer en taalversorg.
In hul huis in Brandwag is nie net die mure nie, maar tot die koffietafel vol van foto’s van Gemma en haar broers, Bryce (14) en Thabo (9), leerlinge aan die St. Andrew’s School in die stad.
“Daar sal altyd drie wees,” lui Debbie se WhatsApp-status met twee blou harte en ’n rooi stukkende hart tussenin.
Of sy netjies in haar Eunice-drag glimlag en of sy laf poseer as die vrolike “Gem Squash”, soos haar maats haar liefderik genoem het, bring die foto’s van haar ’n stukkie sonlig na elke hoek in die huis.
Die boek het gehelp, sê Michael, wat muurbal afrig by verskeie skole in die stad.
“Maar ek moes soort van die 13 jaar herleef, so dit was regtig moeilik om oor en oor daardeur te werk. Dit gaan nie weg nie, maar dit het tog gehelp om gereeld daaroor te praat, en ek dink dis wat met die boek gebeur het – jy kry die geleentheid om jou ervaring met mense te deel. Ons almal ervaar verlies anders.”
Hulle wou die boek betyds vir haar 16de verjaardag in September uitbring om haar lewe te vier.
Dit is ’n vertelling van “Dag 1 tot Dag Zero”, en dit beskryf groot ingrypings wat Gemma met die siekte moes deurmaak, soos toe die grootste deel van haar pankreas – 95% – in ’n hospitaal in Londen verwyder moes word toe sy maar vyf jaar oud was. Vir vyf jaar daarna het sy normaal funksioneer.
Hulle moes die moeilike besluit neem om nog 3% te verwyder omdat haar insulienvlakke te veel gefluktueer het, wat daartoe gelei het dat sy diabetes ontwikkel het.
Gemma was ook in ’n stadium in ’n hospitaal in Oostenryk om haar van voedingsbuise af te kry. Dit is danksy geld wat mense van oor die land heen geskenk het.
Debbie het vandat Gemma vyf jaar oud was blog-inskrywings en foto’s aanlyn geplaas, en nou is haar hele lewensverhaal in die boek vervat.
Sy het ’n skryfkursus in Clarens, waar die egpaar die laaste paar maande ’n hotel bedryf het, gedoen en toe ’n langer kursus in die Kaap verlede jaar November.
“Ek skryf graag vanuit die hart, maar die kursusse het my geleer om met diepte te skryf.”
Baie mense, insluitend nabye familie en haar klasmaats, het nie eens geweet Gemma is so siek nie.
“Sy het die siekte so goed hanteer en die lewe so omarm dat dit vir baie mense ’n groot skok was.”
Op skool sou Gemma saggies vir die juffrou sê sy voel nie lekker nie, maar sy wou nooit gehad het die wêreld moet om haar siekte draai nie.
Oorlewing was deel van waaroor haar lewe gegaan het, en die gesin het dit dag vir dag gevat. Met die inperking het hulle baie van hul tyd by die familie se gastehuis in Lesotho bestee en daar gewerk, en Gemma het veral met die laaste besoek “duisende” foto’s geneem.
Gemma en Bryce is ná die inperking na die koshuis, iets wat Gemma baie geniet het, maar ook as spanning ervaar het. Hulle het ’n manier gesoek om nader aan hul kinders te wees, sê Debbie.
Nadat Gemma onverwags met die 100ste besoek aan die hospitaal gesterf het, is die gesin na Clarens vir sewe maande en daarna is hulle na ’n hotel in die KwaZulu-Natalse Middellande om dit te bestuur.
Debbie het die seuns tuis onderrig, en hulle was ook ’n ruk in ’n alternatiewe skool wat fokus op spel en so min as moontlik huiswerk. Terug in Bloemfontein voel hulle nader aan haar, en die struktuur wat die skool bied, help die seuns.
St. Andrew’s het ’n sielkundige wat Thabo goed bystaan oor die verlies van sy ousus en om weer aan te pas in ’n hoofstroomskool.
“Ons praat nog baie oor Gemma, soveel as wat ons kan,” sê Michael.