Sy vriende was behoorlik uit die veld geslaan toe hy in November verlede jaar op die sosiale media sy pragtige babadogter aan die wêreld bekend stel.
Hilè-Irene van Niekerk was vir almal, behalwe Johan se heel naaste familie, ’n groot verrassing.
Want sien, prof. Johan van Niekerk, dosent in volhoubare landboustelsels en ontwikkeling aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), is ’n enkellopende man.
Nou, drie maande ná die geboorte van klein Hilè, sê hy dit voel maar net asof hy nog altyd ’n pa was.
“Dit voel vir my so natuurlik, so asof dit nog altyd so bestem was.
“Ek het seker nog altyd daarvan gedroom om pa te wees, maar die regte vrou het nog nie gekom nie.”
Tydens die streng inperking in 2020 het hy Jonathan Kaplan se boek Winging It gelees. Dit vertel die verhaal van dié wêreldbekende rugbyskeidsregter wat op 47 besluit het om deur middel van ’n surrogaat-swangerskap ’n baba van sy eie te kry.
“JK se storie het my aangegryp en ek het geweet ek wil dit ook doen,” sê Johan.
Hy het kontak gemaak met Robynne Friedman, ’n prokureur wat in die hantering van surrogaat-swangerskappe spesialiseer.
“Sy het my vertel hoe dit werk en gesê ek moet goed nadink en haar laat weet. ’n Week later het ek haar teruggebel, en die proses het begin.
“Sy het gewaarsku dat dit tot drie jaar kan neem om ’n geskikte surrogaat te vind, maar ’n week later het sy my gebel. Sy het gesê sy het iemand gevind, maar dat ek dadelik moet besluit omdat sy ’n baie lang waglys het.”
Johan was oorstelp.
“Die eerste stap was om na die hooggeregshof in Bloemfontein te gaan om volle seggenskap oor die kind se DNS te kry.”
Dit sou beteken dat slegs hy kan besluit om die swangerskap te beëindig, sou daar komplikasies wees.
Hy moes ’n eierselskenker uit ’n databasis kies.
Op 8 November 2020 is 13 eiers bevrug, en drie sterk embrio’s het ontwikkel waarvan die een op 8 Maart in die surrogaatma se baarmoeder geplant is.
“Dit was soos drie fietse wat op verskillende plekke begin het om uiteindelik te lei tot die geboorte van Hilè.”
Slegs Johan se naam staan op die geboortesertifikaat van sy dogter.
Hilè is op 15 November 2021 in die Mediclinic Sandton gebore en is direk in Johan se hande geplaas.
“Ek was drie dae in die hospitaal saam met haar voordat ons huis toe gekom het.”
Johan het groot lof vir die Suid-Afrikaanse regstelsel wat dit vir mans moontlik maak om alleenseggenskap oor hul kinders te kry.
Hy sê Friedman het al meer as 100 pa’s oor Suid-Afrika heen gehelp om babas te kry.
“Vir my is haar geboorte ’n bewys dat daar ’n God is. Dit is iets so onwaarskynlik, en tog is dit moontlik.”
Johan is dankbaar vir die Bloemfonteinse gemeenskap wat Hilè se geboorte aanvaar het en hulle twee op die hande dra.
Bedags wanneer Johan by die werk is, sien ’n kinderoppasser na Hilè om.
“Vir my is die heel lekkerste tyd van die dag wanneer ek om 17:00 van die werk af kom.
“Die mooiste is wanneer sy vir my glimlag – sy weet ek is haar pappa.”
Hy sê hy was baie bly dit is ’n dogtertjie.
“Sy is genoem na die twee vroue in my lewe – my ma, Hilè, en my sussie, Irene.”
Irene en haar gesin woon reg langs Johan, en die kinders is baie opgewonde oor hul nuwe niggie.
“My wens vir haar is dat sy ’n liggie in die wêreld sal wees. Sy moet die beste weergawe van haarself word,” sê Johan.
In reaksie op ’n vraag of hy vir nog kinders kans sien, gooi hy ’n bietjie wal.
“Gee net kans dat sy darem eers een jaar oud is,” lag hy.
Tussendeur kom hy goed oor die weg met die bottels en doeke, en badtyd is speeltyd.
En wat as die liefde van sy lewe nou oor sy pad kom?
“Sy moet net weet ek kom nou met ’n pakket. Ek kom tweede en Hilè eerste,” sê die trotse nuwe pappa.