Lientjie Mentz
Twee manne van Bloemfontein gee aan die woord mededingend ‘n heel nuwe betekenis.
Roy Bitzer en Anton Swanepoel se gestremdhede keer hulle nie om ander bestuurders behoorlik die loef af te steek nie.
Altwee het met die eerste ovaalbaanwedrenne van die seisoen op Saterdag 8 Maart by Schoemanspark hul onderskeie afdelings gewen.
Bitzer is ‘n ou hand wat al van jongs af aan ovaalbaanwedrenne deelgeneem het, maar ná ‘n ernstige motorongeluk ‘n paar jaar gelede nou weer dié wedrenne ten volle geniet en uitblink.
In 2008 en 2009 het hy met ‘n SA2-titel in die V8-klasse, en in 2010 SA3 in dié klas.
In 2013 het hy oorgeslaan na Lexus en was met sy motor Vliegmasjien SA1 in die World of Motorsport (Womza)-kompetisie.

Hy was in daardie jaar die SA-grondpadkampioen in dié resies in Port Elizabeth.
Op pad terug na Bloemfontein vanaf ‘n ovaalbaanresies in Boshoff in 2014, het Bitzer se lewe dramaties verander toe hy in ‘n motorongeluk ernstig beseer is. Hy het sy rug by sy T9-werwel gebreek en sy spinale koord beseer.
Nadat hy begin herstel het, moes hy leer om te bestuur sonder die gebruik van sy bene.
Twee jaar later het hy weer begin ry.
Hy het self kontroles ontwerp waarmee hy die motor se stuurwiel met sy linkerhand bestuur en met sy regterhand die versneller beheer.
In 2016 het hy in die Lexus-klas die SA1-titel behaal met sy motor Bonne&Clyde op Womza.
Hy het in 2023 weer in die Lexus-klas SA1-titel behaal.

Verlede jaar het Bitzer besluit om van rat te verwissel en het vir hom ‘n nuwe American Saloon V8 gebou.
Hy het dié motor, genaamd Road Runner, in net drie weke gebou.
Vanjaar het weer goed begin toe hy sy eerste wedren vir die seisoen op die Schoemanspark-baan gewen het.
Swanepoel is ook sy lewe lank baie sportief.
Toe hy 19 jaar gelede in ‘n motorongeluk sy regterbeen verloor het en sy linkerbeen erg beseer het, het hy steeds voortgegaan met sport.
Voor sy ongeluk het hy deelgeneem aan marathons en roei, en selfs ná die ongeluk het hy behoorlik uitgeblink toe hy van 2013 begin deelneem het aan driekamp.
Hy het Suid-Afrika in verskeie wêreldkampoienskappe verteenwoordig.
Twee jaar gelede het hy besluit dit is tyd vir iets nuut en begin om deel te neem in ovaalbaanwedrenne.
Sy Lexus is spesiaal ingerig sodat hy die versneller met sy regter bobeen kan trap.
“Ek geniet die kompetisie sommer baie,” sê hy.
“Dit is vir my meer ‘n stokperdjie as ‘n sportsoort. Die gees om die baan is baie lekker.”
Sy renmotor, genaamd Eenbeen, is outomaties, maar Swanepoel sê hy skrik nie vir handratmotors nie.
Oor die naam van sy ovaalbaanmotor, lag hy net.
“Toe ek destyds in die hospitaal gelê het ná my ongeluk, het een van die personeellede in die hospitaal vir my gesê dat ek eendag my motor Eenbeen moet noem.
“Ek was nie seker wat om daarvan te maak nie; ek het pas my been verloor.”
Vandag pryk Eenbeen op sy bakkie se nommerplaat en pryk dié naam ook op die pasgeboude Lexus waarmee hy op 8 Maart dié klas gewen het.



You must be logged in to post a comment.