Ek dink vandag aan my kaalvoet-pa.

Ek dink aan die stories wat hy dikwels met ’n helder onthou ver in die Karoo, verby Burgersdorp se stofbossies, loop haal het.

Pa het lank ná sy sibbe gekom. Agtste in ’n groep van nege. ’n Handvol kwaai susters voor hom in die ry.

Pa moes altyd tevrede wees met wat padlangs na sy kant toe kom. Ouma het selfs ou rokke in hempies vir hom omgetoor.

Klaargeloopte skoene was nooit onder Pa se bed te sien nie. Onnodig, want die Karoo het Pa kaalvoet grootgekry.

Pa het altyd vertel van sy speeltyd in die klipkoppies buite Burgersdorp. Skoenloos met lang maer skaduwees wat sy tenger seunslyf agtertoe gooi wanneer hy hol soos die wind.

Hy het die somer wat van bo op sy borselkop en van onder sy skurwe sole skroei, onthou.

Hy het gelag oor die bobbejaanspinnekop wat spring-spring saamhol in sy skaduwee, net om van die bloedige hitte op die ysterklippe te kan ontsnap.

Pa het grootgeword en in die Kaap gaan leer.

Slegs een paar skoene moes vir sewe jaar lank die myle saam met hom deur die kweekskool se gange in Stellenbosch trap.

Ek onthou die meelsak in Pa se klerekas.

Daaruit het hy elke aand vandat ek onthou, ’n blik Nugget-politoer, altyd swart, met twee perdehaarborsels gehaal. Hy het sy opvoustoeltjie oopgeslaan, ’n vel koerantpapier op die mat uitgesit en met die blinkmaak begin.

Later jare toe ek skool toe is, het my skoene saans langs syne staan gekry, blink gevryf met liefde. Vier skoene in ’n ry, reg vir môre se reis.

Deur die jare het Pa se skoenversameling gegroei.

Die rooibruin Grasshoppers was vir vakansies en naweek-af. Maandagaande is ’n paar canvastekkies stokstyf gesmeer met Shoeshine en vir Dinsdagoggend se tennisuur uitgesit.

Met Pa se laaste verjaarsdag het ek vir hom skoene gegee. ’n Paar grys skaapwolslippers van ver oor die water.

Pa het sag en moeisaam deur die huis geslof. Sy voete was koud, al was dit Oktobermaand.

Ek en Pa loop steeds saam-saam die pad. Op ’n moeilike dag draf ek dikwels vir ’n paar treë agter hom aan, kaalvoet in sy skaduwee, sodat ek vir ’n rukkie in koelte kan trap.

Wanneer ek twyfel oor die wysheid van ’n besluit, loop ek gang-af en trek vir ’n oomblik my blinkgepoetsde skoolskoene van lank gelede aan.

Dink ek aan Kersfeeste by die see, hoor ek die soesh-soesh van sy Grasshoppers se geel rubbersole oor die gras in die karavaanpark waar ons kamp.

En wanneer ek wonder of hy régtig rustig was in sy laaste uur van groet, voel ek altyd die sagtheid van ’n skaapvelslipper om my hart.

You need to be Logged In to leave a comment.