‘Pa’ vir baie Voortrekker-verkenners sterf in ongeluk by Philippolis

’n Geliefde offisier van die Voorslag-Voortrekkers in Bloemfontein is gister in ’n motorongeluk naby Philippolis oorlede.


’n Geliefde offisier van die Voorslag-Voortrekkers in Bloemfontein is gister in ’n motorongeluk naby Philippolis oorlede.

André Grobbelaar (48), ’n tegnikus, was in ’n motor op ’n grondpad tussen Philippolis en Jagersfontein toe hy glo beheer oor die voertuig verloor het. Hy is op die toneel oorlede.

Bertie Eimer, kommandoleier van Voorslag, sê André was op pad terug na Bloemfontein toe die ongeluk gister tussen 14:30 en 15:00 gebeur het.

Volgens Eimer was Grobbelaar die afgelope vier jaar ’n spanoffisier in die kommando, en voor dit was hy sewe jaar lank by die Universitas-kommando betrokke.

“André was ’n pa vir baie verkenners, nie net vir die gr. 10’s nie. Vanoggend het al 34 gr. 10’s saam gebid en saam gehuil,” sê Eimer oor die leerlinge by die Hoërskool Jim Fouché. “Ons gaan hom baie mis.”

Willie Engelbrecht, gebiedsleier van die Vrystaatse Voortrekkers, sê in ’n huldeblyk Grobbelaar het geleef vir Die Voortrekkers en veral vir sy gr. 10-Aapspan.

“Hy was betrokke by verskeie kampe in sy loopbaan as offisier.

“André sal onthou word vir sy vriendelikheid, opgeruimde geaardheid en die entoesiasme waarmee hy sy span hanteer het.”

Eimer sê vir Grobbelaar was eerbewyse en sertifikate nie belangrik nie. “Vir hom was die positiewe terugvoering wat hy van ouers af gekry het, die grootste vreugde.”

Hy sê Voorslag beplan Maandag om 17:00 ’n gedenkgeleentheid om aan Grobbelaar hulde te bring.

Grobbelaar word oorleef deur sy vrou, Ronel, en hul dogter, Leandré, ’n gr. 11-leerling aan die Hoërskool Jim Fouché.

You need to be Logged In to leave a comment.