Dis net die oortjies van die Paashaas, glo my. (Vergewe my, Spreekwoordelike Seekoei, dat ek dié verwysing na jou mees bekoorlike kenmerk so misbruik.)
’n Mens dink dalk dat jy die onmatigheid besef waarmee die Paastyd oorlaai is, oor jare en oor werklike én versinde tradisies heen.
Daar is die bont versierings, blink foeliepapiertjies, kuikens, nessies, emmertjies, mandjies, eiers skape en hasies. Daar is klein klokkies om van die hasies se nekke. Nog ’n spatseltjie verf vir ekstra kleur hier en daar. Handmaak-projekte en -idees om van te kus en te keur.
Winkelrakke is oorlaai; bokse en pakkies en houertjies lekkergoed is in torings gepak en tot teenaan die dak opgestapel; daar is winskopies en wenskopies.
Hierdie uitspattigheid, natuurlik, sou so op sy eie egter skoon flou vertoon, was dit nie vir die oordaad van die smulgoed nie.
Daar is die Paasbolletjies, -sjololade en -eiers (die ganse verskeidenheid – van malvalekker tot sjokolade). Kolwyntjies. Kleinkoekies. Gevlegde brode. Lamsboud, kerrievis en ham.
’n Mens dink jy ken dit, ja.
Dis hier waar ek ’n moontlik ongewilde uitlating wil maak. Ek dink nie, liewe leser, jy het al werklik die omvang van die oordaad ervaar nie. As jy nou effens geaffronteerd voel, vra ek om verskoning. Ek vra egter ook: Het jy al trane sien loop ter wille van die Paas-uitspattigheid?
Dit gebeur terwyl jy niksvermoedend op ’n naweekoggend by ’n kruidenierswarewinkel instap: Jou reeds woelige kleuter ontaard in ’n bonsballetjie; gille van opwinding sny deur die lug.
Jy struikel in die rigting waarin hy jou aan die arm trek, en dan sien jy die reusagtige Paashaas. Die sagtespeelding-soort.
In beginsel is dit niks waaraan hy nie gewoond is nie. Die ietwat onsenuende verskynsel van iemand in ’n haaskostuum ken hy. Dié is mos kleinskaal.
Die ding is, dis is ’n replika van die “teddie” wat hy op die TV gesien het. Die ondier is feitlik ’n selebriteit. Alles maak skielik sin, want selfs sommige grootmense gil wanneer hulle hul gunsteling-sepiester in ’n winkelsentrum teëkom.
In die TV-advertensie word ’n meisietjie met die hasie langs haar wakker, gevolg deur haar pa se skattejag. Dis dik van nostalgie, tot reg aan die einde wanneer haar kind vir Oupa agter die gordyn wegkruip, presies daar waar sy destyds giggelend gestaan het.
Duidelik word nie net grootmense deur soetsappigheid gebreinspoel nie; die kleuter het al met die eerste sien op die kassie gesê hy wil só een hê. Mammie het gesê: Ons sal sien of ons een kan kry. Vas oortuig dat so iets nie eens bestaan nie.
Wragtig. Lewensgroot en wit-en-pers sit die haas daar.
Mammie koop ten duurste ’n Paassjokolade en sit die strokie in die kompetisieboks. Dis die maklike deel.
Probeer, liewe leser, gerus aan ’n kleuter verduidelik die haas kan net groot miskien, eendag op ’n reëndag, syne word . . . en ’n ander maatjie vat hom dalk, heel regverdig, huis toe.
Hoe meer haas, hoe minder voorspoed.