Elizabeth Phillips (Life Restoration Outreaches, links) en Barbara de Beer (Auksano-traumaterapiesentrum). Foto: Lientjie Mentz

Life Restoration Outreaches, wat met oortreders in tronke en ná hul vrylating ‘n pad stap, gaan nouer saam met Auksano in Bloemfontein werk.

Barbara de Beer, mededirekteur van Auksano, sê in baie opsigte is daar raakpunte tussen dié twee niewinsgewende organisasies wat albei werk om gesinne te herstel.

Die Auksano-traumaterapiesentrum het tot einde 2024 in twee afdelings gewerk: die kinder- en gesinsafdeling wat destruktiewe subkulture hanteer, en die substans-afdeling wat rehabilitasieprogramme aan buitepasiënte bied.

‘n Nuwe fokus word op mensehandel geplaas omdat ontvoerings toeneem.

De Beer sê dat Auksano nou met Life Restoration saamwerk, veral betreffende angs en trauma van misdaadslagoffers.

Elizabeth Phillips werk die afgelope 12 jaar heeltyds saam met David Menyatso met slagoffers van misdaad, asook gevangenes in tronke by Bloemfontein. Phillips vertel die lewe in ‘n tronk is ‘n “wêreld binne ‘n wêreld”.

“Ons stap ‘n pad met mense in die tronk – en ook wanneer hulle vrygelaat word, om in die gemeenskap en ‘n gesinslewe aan te pas. Dit is regtig moeilik vir mense wat uit die gevangenis kom om weer hul plek in die samelewing vol te staan en ‘n volwaardige bydrae te lewer wanneer hul vonnis uitgedien is.”

‘n Behoefte wat deur Life Restoration identifiseer is, is kospakkies vir twee tot drie maande vandat gevangenes wat deel van dié program was, vrygelaat word.

“So kan hulle ‘n bydrae tot die huishouding maak terwyl hulle werk soek. Baie van die gevangenes in ons programme leer nuwe vaardighede, en voltooi kursusse en grade terwyl hulle hul vonnis uitdien.”

Life Restoration help gevangenes wat vrygelaat is om werk te kry.

“Daar is sakelui in die stad wat werklik omgee en help om vir hulle werk te gee,” vertel sy.

Phillips sê die invloed wat hulle het, is groot.

“Ons sien gemiddeld 1 500 gevangenes ‘n maand. Ons glo deur ‘n pad met hulle te loop, genesing vir hulle en hul families gebring kan word.”

De Beer sê albei organisasies rehabiliteer mense om weer hul volwaardige plek in die gemeenskap in te neem.

“Ons help die individue en gesels met die gesinslede om uitdagings te help oorkom.”

You need to be Logged In to leave a comment.